Byna 100 vermis ná gebou in Miami ineenstort

Die 12-verdieping Champlain Towers South-gebou in Surfside het Donderdag in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Altesame 99 mense word nog vermis nadat ’n woonstelgebou naby Miami Beach in die Amerikaanse deelstaat Florida Donderdag gedeeltelik ineengestort het.

Minstens een persoon is dood hoewel vrese bestaan dat die dodetal moontlik binnekort skerp kan styg.

’n Onbekende aantal inwoners het vermoedelik gelê en slaap toe die 12-verdieping Champlain Towers South-gebou in Surfside Donderdag in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort het.

Ray Jadallah, hoof van Miami Dade County se brandweer, sê die plaaslike nooddienste het Donderdag omstreeks 01:30 by hul aankoms op die toneel 35 mense uit die gebou verwyder. Ongeveer 55 woonstelle is deur die ineenstorting geraak.

“Die een kant van die gebou het net heeltemal geval. Dit bestaan ​​nie meer nie,” het Nicolas Fernandez, ʼn Argentynse inwoner van Miami, ná die voorval vertel.

Sowat 14 oorlewendes is glo al uit die puin gered en reddingswerkers en snuffelhonde soek nog in die puin na nog oorlewendes.

Tot dusver het 102 mense die ineenstorting oorleef.

Dit is egter steeds nie duidelik presies hoeveel mense ten tyde van die voorval in die gebou was nie aangesien die woonstelblok heeltydse sowel as seisoenale inwoners huisves.

Die oorsaak van die ineenstorting word volgens Charles Burkett, burgemeester van Surfside, ook nog ondersoek.

Die 12-verdieping Champlain Towers South-gebou in Surfside het Donderdag in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Die Champlain Towers South-gebou is in 1981 opgerig en beskik oor 136 eenhede.

Miami Herald berig ingenieurs glo ʼn aantal faktore kon moontlik ʼn rol in die ineenstorting van die gebou gespeel het. Dit sluit die moontlikheid in dat soutwater die beton kon afbreek en die balke wat die struktuur bo hou, moontlik kon verswak het.

Die gebou was ten tyde van die voorval nog vroeg in sy hersertifiseringsproses. Dié proses is noodsaaklik vir die meeste nie-enkel-gesinstrukture regoor die VSA wanneer die strukture 40 jaar oud word.

Fernandez het intussen nog nie weer van sy vriende gehoor wat ten tyde van die voorval in die Fernandez-familie se eenheid in die gebou oornag het nie. “Ek weet nie wat van hulle geword het nie. Ek weet nie of hulle lewe nie,” het Fernandez aan AFP gesê.

Talle inwoners wat gelukkig was om die voorval te oorleef, sit wel nou sonder ’n heenkome.

Erick de Moura (40) het toevallig Woensdagaand by sy vriendin se huis deurgebring. “Ek het pas teruggekom en die toneel is skokkend,” het hy Donderdag in die vroeë oggendure op die toneel gesê. “Daar is baie pyn. Ek is gelukkig om te lewe.”

Bykomende bron: Miami Herald 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.