Byna 1,4 m. vlug uit Oekraïne

Vlugtelinge oorkruis ’n brug by die grens tussen Pole en Zosin-Ustyluh in die weste van Oekraïne. (Foto: AFP / Daniel Leal)

Sowat 1,37 miljoen mense het al uit Oekraïne gevlug sedert Rusland dié land 10 dae gelede ingeval het. Die Verenigde Nasies se hoëkommissariaat vir vlugtelinge (VNHKV) het Saterdag 1 368 864 vlugtelinge op sy toegewyde webblad aangeteken. Dit is 160 000 meer as die aantal vlugtelinge wat teen Vrydag aangeteken is.

Owerhede verwag dat die vloei van vlugtelinge bloot sal toeneem namate Russiese magte voortgaan om Oekraïne binne te dring, met hewige gevegte wat steeds om die hoofstad Kiëf woed.

“Meer as 1,3 miljoen mense het nou uit Oekraïne na veiligheid gevlug. Tensy daar ’n onmiddellike einde aan die konflik is, sal miljoene meer waarskynlik gedwing word om te vlug,” het die VNHKV Saterdag in ’n twiet gesê.

Die VN voorspel dat tot vier miljoen mense Oekraïne sal verlaat om aan die oorlog te ontsnap.

Voor die konflik het Oekraïne meer as 37 miljoen mense in gebiede gehad wat deur Kiëf beheer is. Dit sluit Russies-geannekseerde of separatisties-beheerde gebiede uit.

Pole huisves in dié stadium die grootste aantal vlugtelinge. Teen Saterdag was daar reeds meer as 756 303 vlugtelinge in dié land. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Anthony Blinken, het Saterdag in Pole aangekom vir samesprekings met die land se amptenare in dié verband.

Sowat 1,5 miljoen Oekraïners het voor die konflik in Pole gewoon, van wie die meeste in die Europese Unie-lidstaat gaan werk het.

Hongarye het tot dusver 157 004 mense ingeneem. Die land het vyf grensoorgange met Oekraïne en verskeie grensdorpe, waaronder Zahony, het openbare geboue in noodlenigingsentrums verander, waar Hongaarse burgers kos of bystand aanbied.

Die VNHKV het nie Saterdag die aantal vlugtelinge in Moldawië bygewerk nie. Die aantal Oekraïense vlugtelinge het egter Vrydag op 103 254 gestaan.

Filippo Grandi, hoof van die VN se vlugtelingagentskap, was Vrydag in die oostelike dorpie Palanca waar vlugtelinge aangekom het. “Vandag by Palanca het ek derduisende mense oor Oekraïne se grensoorgang met Moldawië sien stroom.

Duisende verhale van skeiding, angs en verlies. Dit was ʼn moeilike dag, maar ek het baie respek vir die uiters toegewyde Moldawiese amptenare en mense wat die vlugtelinge help.”

Sowat 101 529 vlugtelinge word tans deur Slowakye gehuisves, gevolg deur Roemenië met 63 192 vlugtelinge. Twee vlugtelingkampe is onderskeidelik in Sighetu Marmatiei en Siret opgerig. Sowat 133 876 mense het ook van Oekraïne na ander Europese lande gevlug.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

Dit beteken dat daar nog meer as veertig miljoen mense oor is wat kan vlug…

Jean ·

En as mens so na die dinge kyk, gaan daai 40 miljoen nog moet vlug.

Di ·

AL hierdie miljoene onskuldige mense moet nou hulle land uitvlug vir WAT? Geen verskoning kan dit regverdig nie. Dink aan al die trauma en ontwrigting wat hierdie kinders nie moet deurmaak nie!

Marthinus W ·

Vir sommiges is dit die ideale geleentheid om uit die land te kom. Dit is ook bewys met die immigrante in Europa in, veral deur die vakuum in LIbie wat deur Navo se bomme geskep is, kriminele kamoefleer, wat tussen die werklike vlugtelinge beweeg eb die grens oorsteek en ander lande binnesypel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.