Byna 3 miljard diere geraak deur Australië-brande

Foto: Twitter

Wetenskaplikes het in ʼn onlangse verslag bevind dat bykans drie miljard diere in Australië reeds die afgelope jaar dood of verplaas is weens verwoestende veldbrande in dié land.

BBC berig die Wêreldnatuurfonds (WWF) beskryf die veldbrande in Australië nou as een van ergste rampe om die natuurlewe in die moderne geskiedenis te tref. Die WWF het wetenskaplikes opdrag gegee om die betrokke verslag op te stel.

Altesaam 33 mense is dood weens die brande wat vanaf verlede September vir langer as ses maande in Australië gewoed het, met talle soogdiere, reptiele, voëls en paddas wat weens die brande omgekom het. Ander is weer uit hul natuurlike habitat verdryf.

Maroela Media het vroeër berig die Australiese eerste minister, Scott Morrison, het in Februarie die verwoestende brande as ’n “Swart Somer” vir dié land gedoop.

Argieffoto(Foto: Rick Rycroft, ANA)

Wetenskaplikes het gedurende die piek van die brande in Januarie beraam dat 1,25 miljard diere in die Australiese state Nieu-Suid-Wallis en Victoria alleen gevrek het.

ʼn Nuwe beraming neem egter ʼn groter gebied in berekening, aangesien sowat 11,46 miljoen hektaar, ’n gebied wat in grootte vergelyk kan word met Engeland, van September tot Februarie gebrand het.

“As u in ag neem dat byna drie miljard inheemse diere in die pad van die brande was, is dit absoluut enorm – dit is ’n moeilike getal om te begryp,” sê prof. Chris Dickman wat toesig gehou het oor die tien wetenskaplikes van Australiese universiteite wat die verslag opgestel het.

Luidens die WWF se statistieke het 2,46 miljard reptiele, 180 miljoen voëls, 143 miljoen soogdiere en 51 miljoen paddas na verwagting in die brande gevrek of is weens die brande verplaas.

Volgens Dickman kon ʼn presiese dodetal nog nie vasgestel word nie, maar weens ʼn gebrek aan kos en skuiling is die kanse skraal dat diere die vlamme kon ontduik en daarna oorleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Alles te danke aan die Wereld se politci. Ons weet al van die 80’s af dat die aarde nie gesond is nie maar daar is aktief teen die wetenskap gewerk. En nou sit ons met die gebakte pere. Scott Robinson en sy hele kabinet moet in die tronk sit vir die, hulle het dit heeltemal onderskat en is tot vandag toe gekant teen enige poging om klimaatsverandering te stop.

Ons gaan nie enige iets bereik tot ons aandring dat hierdie korrupte slange tronk toe gaan nie, en hulle is die die hele wereld vol. Ons hele regering is korrup. Trump is korrup, Scott Morrison is korrup. Macron, Bolsonaro – almal moet agter tralies sit. En daarna moet ons kom vir kapteine van industrie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.