Byna R5 miljoen verwag vir Mona Lisa-replika

Die “Mona Lisa Hekking” (Foto: Christie’s-afslaers)

ʼn Replika van die Mona Lisa sal vandeesweek in Parys onder die hamer kom. Die verwagte verkoopprys is sowat €300 000 (meer as R4,9 miljoen).

Die skildery, wat as die “Mona Lisa Hekking” bekend staan, is vernoem na Raymond Hekking, ʼn kunshandelaar in die suide van Frankryk wat twyfel laat ontstaan het oor die egtheid van die oorspronklike meesterstuk deur Leonardo da Vinci waar dit in die Louvre-museum te sien is.

Ná Hekking sy weergawe in die 1960’s in Nice gekoop het, het hy suksesvol kunsgeskiedeniskenners en joernaliste oorgehaal om sy huis te besoek om die skildery te bestudeer. Hy het aangevoer ʼn vervalsing hang in die Louvre.

Christie’s-afslaers sal die werk Vrydag beskikbaar stel, met die gehalte van die reproduksie en ongewone verhaal wat dié replika in ʼn ander kategorie plaas as ander weergawes van een van die mees gekopieerde skilderye in die wêreld.

“Hierdie werk en sy geskiedenis is ʼn teken van die bekoring wat die Mona Lisa en die aura van Leonardo da Vinci nog altyd gehad het,” het die afslaers op sy webwerf gesê. Die afslaers verwag dat die skildery vir tussen €200 000 en €300 000 sal verkoop.

Die oorspronklike “Mona Lisa” is in 1911 uit die Louvre gesteel deur die Italianer Vincenzo Perugia. Dit is drie jaar later teruggekry.

Hekking het verkeerdelik aangevoer dat die weergawe, wat die museum terugontvang het, nie die oorspronklike een is nie.

Met Hekking se afsterwe in 1977 het sy familie die replika ontvang en besluit om dit te koop aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Daar is ook ‘n Mona-Lisa in Spanje wat as die oorspronklike voorgehou word. Dit wil so lyk want die kantwerk op die skildery is baie outentiek maar in Da Vinci s’n afgeskeep en dof. Die beroemde skilder was self nie eintlik ‘n engeltjie nie en erg teatraal. Hy het baie gereis omring deur ‘n entourage van jong bewonderaars maar nie gewild onder medekunstenaars nie met Michael Angelo as aardsvyand. Da Vinci blink uit in futuristiese ingenieurs-ontwerpe en mediese sketse. Baie werke is half voltooi gelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.