Cecil die leeu: Aanklagte teen jagter laat vaar

Cecil die leeu. Foto: Zimparks, Facebook

Cecil die leeu. Foto: Zimparks, Facebook

Die aanklagte teen die Zimbabwiese jagter wat saam met ʼn Amerikaanse tandarts verlede jaar ʼn jagtog gedoen het waartydens die bekende leeu Cecil doodgeskiet is, is laat vaar.

Die tandarts, Walmer Palmer, het Cecil in Julie 2015 in die nag met ʼn pyl en boog naby die Hwange nasionale park gekwes en die volgende oggend teruggegaan om hom dood te skiet. Theo Bronkhorst was die professionele jagter wat Palmer se jagtog na Zimbabwe gereël en hom vergesel het.

Cecil se dood het wyd opslae gemaak en baie kritiek teen die grootwildjagbedryf in Afrika uitgelok. Palmer het R80 000 vir die skiet van Cecil betaal.

Cecil het ten tyde van sy dood ʼn elektriese halsband aangehad as deel van ʼn projek van die Oxford Universiteit wat leeus in die Hwange-park monitor. Nadat die nuus van Cecil se dood aan die lig gekom, en Palmer as die skieter geïdentifiseer is, het wildbewaringsaktiviste hom voortdurend by sy huis en spreekkamer in Minnesota geteister.

Bronkhorst is van onwettige jag in Zimbabwe aangekla, maar geen aanklagte is teen Palmer aanhangig gemaak nie. Perpetua Dube, Bronkhorst se regsverteenwoordiger, het bevestig dat die aanklagte teruggetrek is.

Bronkhorst het egter gesê hoewel die aanklagte laat vaar is, is hy “gebreek” deur die voorval en sal nooit weer jag nie. Bronkhorst was in 2000 een van die eerste wit boere wie se plase deur pres. Robert Mugabe se grondhervormingsprogram oorgeneem is.

Zimbabwe verdien meer as 80% van sy inkomste vir die bewaring van wild deur jag. Die Hwange nasionale park het tans ʼn groot hoeveelheid leeus nadat die span van die Oxford Universiteit die park in kennis gestel het dat daar te min leeus in die park is en leeujagte vir ʼn paar jaar in die gebied opgeskort is. Die getalle het egter sedertdien heeltemal herstel.

Lees alle vorige berigte oor Cecil die leeu op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

DG ·

Maak weer oop vir jag, dit is die beste manier om te bewaar !!

Cherokee ·

Vele boere wie se plase deur Mugabe gesteel is, het hul geld belê in veteraan voertuie en daarmee oor die beitbrug gery en in Suid Afrika kom werk. Vir Bronkhorst moes Cecil opdok vir die geld wat Mugabe van hom gesteel het.

M'Lady ·

Kan ons hierdie man enigsins glo dat hy nooit weer sal jag nie? Cecil se dood het een goeie ding tot gevolg gehad en dit is dat mense baie meer bewus geraak het van die baie onetiese praktyke in die jagbedryf en hoe hulle die wildlewe uitwis deur hulle sogenaamde “sustainable utilisaton”. Min mense is bewus daarvan dat ongeveer 20,000 olifante per jaar gebore word maar agv “poaching” en jag word 35, 000 per jaar uitgewis. Maak maar self die somme.

rudi ·

Die getalle van allle wild het afgeneem oor Afrika DRAMATIES! Suid Afrika is die enigste land waar jag geld inwin en boere wild teel. Suid Afrika se jag bedryf is die enigste entiteit wat sorg dat die getalle nie verder daal. Waar is jou ondersteuners wat biljoene insamel om wild te beskerm?

Gert ·

Hierdie is die tipiese vae en ongegronde aantygings van die anti-jag groepering. Gee bietjie voorbeelde en verwysings vir jou propaganda. Presies watter wildlewe in Suider Afrika is deur wettige jag uitgewis, se tog vir ons watter spesies, waar en wanneer? En natuurlik is wildstropery ‘n massiewe probleem, maar om wettige jag daarmee saam te groepeer? Is jy op voetsool vlak betrokke by teen-stropery? Want baie jagters en jag organisasies is…

Tammy ·

Ons sien gereeld mense in inkopiesentrums “Malls” soos ons dit noem wat geld insamel vir bewaring “conservation” soos hulle daarop roem. Hoe sal ons ooit weet wat met daardie geld gedoen word? Ek kon nog gladnie enige iets opspoor wat vir my se die mense wat die projekte ondersteun se geld het regtig gegaan vir dit wat hulle bedoel het om te ondersteun.

Hanlie ·

Ek is ook so deur ‘n jong man in Cresta geteister, hulle het geld ingesamel om leeu jag te belemmer. Toe ek hom vra hoekom mens met beeste mag boer maar nie met leeus nie was hy stomgeslaan en kon hy my nie antwoord nie.

Jan ·

Ek’s bly die aanklagte is laat vaar, die man het al genoeg teespoed gehad. Die emosionele stuiptrekkings van ‘n klomp eerste-wereld hippies moenie die regsproses beinvloed nie. As hy skuldig was dan moet hy sy straf dra maar werk met die feite, nie sentiment nie.

Johannes Meintjes ·

A nee a, – maar wat van ‘n lekker vet boete wat die koffers van oorlede Cecil se wildreservaat kon stuif ter wille van natuurbewaaring en om toerisme wen-wen te help bevorder in Zim se vervalle ekonomie, – hoewel dit seker ook maar net weer iewers in ‘n donker gat of hand sal verdwyn. Geld onder die tafel het seker weer die praatwerk gedoen sodat klagtes laat vaar is?

Leendert ·

Julle wat in die naam van boer wil ‘bewaar’. Mens boer vee/pluimvee om te verkoop, om te vleis te voorsien, byprodukte, dit is die doel, die doel is nie vir julle om te bewaar nie, ook nie in die dier se natuurlike omgewing nie, dit kom nie eens by julle op nie, julle gebruik dit net om dit mooi te laat klink. Dus, om wild in sy natuurlike omgewing te bewaar, waar ook sy natuurlike instinkte en gedrag nie gemanupileer word nie, of waar hy nie sy instinkte in sy natuurlike omgewing in die wildernis nie kan uitleef nie, is darem mos nou sekerlik nie dieselfde as om met die dier in gevangeneskap te ‘boer’, soos vee, nie. Dis soos om ‘n voël, bv ‘n rooibekkwelea, wat ‘n groepvoël is, vasgeketting in ‘n kou aan te hou. As julle ‘bewaar’ soos julle dit noem, is dit toevallig.

Jan ·

Kan mens hulle opportuniste noem? En dan wat ons geblikte jag aan betref, hoe eties is dit?

Johan van Heerden ·

So daar is mense wat reken dat lewendehawe boerdery beperk moet wees tot vee en pluimvee??? Die res van die diere sal seker dan nou hul getalle self aanpas met die al groeiende behoefte van jagters, en dit dan nog te midde van hul natuurlike habitat wat ook byna jaarliks verminder word. Wild in Suid Afrika se stabiele getalle is te danke aan wild boere!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.