Cecil die leeu: ‘Ek het nie geweet die leeu was bekend nie’

Cecil die leeu Foto: Zimparks, Facebook

Cecil die leeu Foto: Zimparks, Facebook

Theo Bronkhorst (52), die man wat glo ʼn beweerde onwettige jagtog vir ʼn Amerikaanse tandarts, Walter Palmer, gereël het waartydens Cecil die leeu doodgeskiet is, sal vandag in die Hwange-landdroshof in Zimbabwe verskyn.

Bronkhorst het skuld ontken op die aanklagte teen hom en is verlede week op R12 000 borgtog vrygelaat. Die saak sal na verwagting vir nog ʼn paar weke uitgestel word.

Die jag op Cecil die leeu het internasionaal opslae gemaak en kan langtermyn gevolge vir jagpraktyke in Zimbabwe hê. Dit is nie die eerste keer wat Bronkhorst in Zimbabwe die wind van voor kry nie.

In 2000 was hy een van die eerste wit boere wie se plase deur president Robert Mugabe se grondhervormingsprogram oorgeneem is. Hy het sy klein, maar belangrike plaas in sentraal-Zimbabwe verloor waar hy met beeste geboer en kampioenbeeste geteel het. Hy het alles wat hy besit het, verloor, en soos baie ander, het hy geen vergoeding vir sy grond of die bates op die plaas ontvang nie.

Volgens Bronkhorst is dit hoekom hy by die jagbedryf betrokke geraak het. Hy het gesê hy en sy werkers sal nou geen inkomste kan verdien nie, omdat sy borgtogvoorwaardes bepaal dat hy drie keer ʼn week aan die polisie in Bulawayo moet rapporteer. Dit beteken hy kan nie ver afstande reis vir jagtogte nie, wat dikwels in afgeleë gebiede in die land plaasvind.

Sy kliënte het hierdie week ook alle bespreekte jagtogte tot die einde van die jaar gekanselleer. “Ek weet nie hoe ek hierdie gaan oorleef nie,” het hy gesê.

Bronkhorst word saam met Honest Ndlovu van die onwettige jagtog beskuldig. Ndlovu is egter nie aangekla nie en het verlede week aangedui hy mag moontlik as ʼn staatsgetuie optree gedurende die verhoor. Cecil is op Ndlovu se grond gejag, maar daar is nie ʼn permit vir die jagtog uitgereik nie.

Bronkhorst het gesê hy sien daarna uit om sy onskuld gedurende die verhoor te bewys. “Dit was amper per ongeluk dat die bekende leeu geskiet is. Ek het op die laaste nippertjie na daardie plaas gegaan, omdat die vorige plaas wat ek deur ʼn ander jagmaatskappy bespreek het, skielik gekanselleer het,” het hy gesê.

“Ek het nie geweet die leeu was bekend onder toeriste nie en ook nie dat dit ʼn halsband gedra het as deel van ʼn navorsingprojek nie. Die leeu is in die nag geskiet. Ek en my kliënt was al twee verpletter toe ons die volgende dag sien die leeu het ʼn halsband aan.”

Hy het gesê hy wens hy het die halsband saamgeneem en by die parke-owerhede ingehandig toe hy die voorval die volgende gaan aanmeld het.

Lees alle vorige berigte oor Cecil die leeu op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elfie ·

Ag tog, verskonings, verskoning! Nie “geweet die leeu was bekend nie” – asseblief man, die arme ding – of hy bekend was al dan nie op ‘n dom wrede manier gekwes sodat hy 40 uur moet ly en pyn hê en dan hom eers doodskiet – dis al klaar uiters, UITERS onnodig. Nou is hy bekommerd oor sy werkers wat nie werk gaan hê ens ens. Die gesegde ” ‘n benoude kat maak benoude spronge” kom by my op, ek is seker hy is nie TE veel gepla oor sy werkers ander tye maar nou wat hy in die pekel is, nou is hulle skielik ‘n bekommernis vir hom. Die tipe “mens” maak my siek. Kry wat jou toekom ou! In die ergste graad hoop ek. Hy maak asof hy so sukkel maar ek het al gehoor hoeveel derduisende maak hierdie tipes met hul jagstories, die spul yanks en andere se dollars/ponde/euros is baie werd en hul gee nie om om uit te haal nie, so bog met jou stories!

Realis ·

Stem 100% saam Elfie. Ken ook die tipe in die jagbedryf. Die $$ signs maak hierdie tipe ouens blind vir enige iets. Tyd dat hierdie onetiese bedrywe gestop word. So baie etiese jag “outfitters” daar buite, maar dan is daar hierdie tipe clown wat maak en breek soos hy wil. Mag gereg geskied hier. Zero simpatie.

Jan Stapskoen ·

Ek daag enigeen uit om ‘n halsband – onder ‘n leeu se maanhare en in die nag – op ‘n afstand raak te sien. En as hier onwettig opgetree is, dan moet Bronkhorst en/of Palmer hulle straf kry.

Maar onthou nou, Cecil was ook ‘n jagter. En leeus maak hul prooi op wrede manier dood – dis hoe die natuur werk. Dis baie jammer dat die dier onnodig gelei het, maar as dit nou Frikkie die blesblok of Petrus die vlakvark was het ons nooit eers hiervan gehoor nie. Dis ook nie oor die boog nie – moderne jag boë is baie doeltreffend – dis eenvoudig ‘n pyl skoot waar iets skeef geloop het.

So goed, as trofee jag jou nie aanstaan nie, dis jou reg. Maar moet nou nie skeinheilig wees, jou lamswol pantoffels en leer belt kom ook van diere af. Dalk was hulle nie so cute as wese Cecil nie, maar dis tog maar dieselfde ding.

nig ·

Ja-nee ou Jan Stapskoen, julle wat so graag die tipe gemors wil verdedig sal nou met allerhande verskonings/redes kom. As die jagter SO goed is dat hy yanks rondvat dan sal hy sekere kenmerke van die leeu kon uitken – halsband al dan nie. Waarom mense met pyl en boog jag (behalwe die San wat te alle tye weet wat hulle doen) gaan ‘n mens se verstand te bowe. Dit was wreed en klaar – dis een ding om ‘n dier te kwes maar so dat hy vir 40 URE rondsukkel in pyn… nee wat, vertel vir my die maan is van kaas dalk glo ek dit eerder!

petrus ·

Ek wens greenies wil verdwyn. As jy wil moan oor iets moan eerder oor Boere wat se grond gevat word, hijackings of moorde. Moenie so all high and mighty wees nie. Jy het nie die reg om hulle te oordeel nie. Julle hou net van julle eie stemme. As jy wil help gee die PH n paar miljoen sodat hy nie in die jagbedryf hoef te wees nie.

Michiel ·

Ag Petrus kom by. NIKS met “greenies” te doene – jy dink seker renosterstropery is ook reg? En om jou simpel kommentaar te regverdig dan bring jy die ou stertjie van plaasmoorde en grondgrypery ens in. Daar word GEDURIG oor daardie sake berig gelewer en mense maak aan- en opmerkings daaroor en lewer ook kommentaar. Miskien moet jy ALLES in die nuus lees dan sal jy dit raaksien. As jy niks kan konstruktiefs kan bydra bly stil. Of is jy dalk maatjies met hierdie “jagter”?

Percy ·

Ja Michiel, jy is reg daar word in die media berig oor plaasmoorde, maar wat word daaraan gedoen? ‘n Leeu ontketting almal se simpatie, gil en skreeu oor ‘n leeu. Met ander woorde vir jou is plaasmoorde maar aanvaarbaar. Leeus is beslis nog nie bedreigde spesie nie. Ja ek stem nie saam met trofee-jag nie, maar smaak verskil.

Anita ·

So as die leeu nie bekend is en nie ‘n halsband dra, IS DIT OK??!!

Philip ·

Hi Michiel

Jammer op te hoor dat jy en soveel SA burgers daaglikse sinnelose en geweldadige moorde op mens en BOER in die land sien as ‘n stertjie. Die energie wat almal agter die betrokke jagtog aanwend, sou van baie meer waarde gewees het as dit ook die bedreigde spesie diè Boer ingesluit het.

Michiel ·

Philip ou snaar bedaar. Dis nie asof ‘n horde mense hul “energie aanwend” agter dei betrokke jagtog nie, mens probeer die tipe goed verhoed want glo my as jy regtig ingaan op die saak sal jy sien wie en wat daardie tandarts is en wat hy al aangevang het en op watter manier. Hy hoort nie op die jagveld nie. Dis nie asof ek moorde as ‘n stertjie sien nie, dis ‘n geval van mense wat simpatie of iets by hul kommentaar wil wek en dan altyd boere moorde as ‘n stertjie bylas. Dit het absoluut niks hiermee uit te waaie het nie. Jy lees nou sommer weeer goed inmy kommentaar wat glad nie daar staan/bedoel word nie! Lees weer Petrus se kommentaar – hy maak asof mense nie lawaai maak oor moorde en grondgrype nie en DIS waarmee ek ‘n pyn het – dat hy dit hierby aanlas en dit het niks met dit uit te waaie nie.

Kosie ·

Michiel, van stertjies gepraat,
Hoe verskil jou ‘vragie’ aan Petrus of hy ‘n maatjie van die jagter sou wees, van ‘n onnodige stertjie?
Is jy en jou pel Jakoos die spietkoppe van die plek?

Jakoos ·

Philip jy praat sommer deur jou nek. Watter “almal” het nou energie agter die jagtog aangewend? En as mense kommentaar lewer wat niks met die berig te doene het (soos plaasmoorde, grondgrype ens) dan is dit ‘n stertjie want dit het niks met hierdie te doene nie. Bepaal jou by die berig man.

susan ·

Ek wens daar wil n algehele verbod op jag geplaas word. Elke Jan rap en sy maat “jag”deesdae en loop en spog daaroor. Dit is die nuwe statussimbool. Dis om van naar te word. Niemand dink aan die arme diere nie. So ek hoop daar word gou nuwe wette gemaak om die nuwe “sport” te stop.

Christa ·

Ek wonder net hoekom ‘n Suid Afrikaner wat soos ‘n sleg hond weggejaag is van sy grond af en ALLES verloor het, nog daai selfde regering se ekonomie verryk deur sy besigheid van daar te hardloop?

nig ·

Christa ek sal jou sê hoekom – want sulkes kan dinge op skelm/agterbakse maniere doen en diere kwes en vir 40 ure laat loop in pyn. Daar is mos nie genoegsame toesig oor permitte/jagmetodes ens en hy maak lekker sy “bucks” in daardie lande waar hy maklik kan wegkom met sulke dinge!

Tammy ·

Hy sal sy dag kry in die hel. Hoop hy sien Cecil dan voor hom staan. Dis n boef en leunaar wat homself wil verontskuldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.