Chaos ná Islamitiese militante aanval in Somalië

Veiligheidsmagte patrolleer naby die Hayat-hotel ná ‘n aanval deur Al-Shabaab-vegters in Mogadisjoe. (Foto: Hassan Ali ELMI / AFP)

Minstens 13 burgerlikes is dood en tientalle ander beseer tydens ’n Islamitiese militante aanval op ’n hotel in die Somaliese hoofstad Mogadisjoe.

Vegters van die Al-Kaïda-geaffilieerde Al-Sjabaab het Vrydagaand die Hayat-hotel in die stad bestorm. Talle volwassenes en kinders was in die hotel vasgekeer, maar amptenare het Saterdag gesê baie is sedertdien gered.

Sporadiese geweervuur en harde ontploffings kon teen Saterdagmiddag nog gehoor word.

Dié aanval is die grootste in Mogadisjoe sedert Hassan Sheikh Mohamud in Mei ná baie maande van politieke onstabiliteit tot president verkies is.

Volgens ooggetuies kon minstens twee kragtige ontploffings gehoor word toe gewapende mans die hotel bestorm het. Dié hotel is ’n gewilde byeenkomplek vir regeringsamptenare in ’n bedrywige gebied op die roete na die lughawe.

Abdifatah Adan Hassan, polisiewoordvoerder, het aan verslaggewers gesê die aanvanklike ontploffing is veroorsaak deur ’n selfmoordbomaanvaller wat saam met ander gewapende mans die hotel binnegedring het.

’n Tweede ontploffing het ’n paar minute later gevolg. Dié ontploffing het talle lewens geëis met reddingspanne, veiligheidsmagte en burgerlikes wat hulle toe reeds na die toneel gehaas het.

Veiligheidsmagte patrolleer naby die Hayat-hotel ná ‘n aanval deur Al-Shabaab-vegters in Mogadisjoe. (Foto: Hassan Ali ELMI / AFP)

Al-Sjabaab het reeds verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die Somaliese regering het nog nie enige amptelike kommentaar uitgereik nie. Die Oos-Afrika-groepering IGAD en Turkye, wat ’n militêre basis in Somalië het, het wel die aanval veroordeel.

Intussen het tientalle mense vandag buite die vierverdiepinghotel saamgedrom in die hoop om nuus oor hul geliefdes te hoor.

“Ons het gesoek na ’n familielid van my wat in die hotel vasgekeer was. Sy is saam met ses ander mense dood verklaar,” het ’n angstige Muudey Ali aan verslaggewers bevestig.

Mohamed Abdirahman Jama, direkteur van Mogadisjoe se vernaamste trauma-hospitaal, sê dié fasiliteit behandel minstens 40 mense wat tydens die aanval op die hotel en in ’n afsonderlike mortieraanval in ’n ander gebied van die hoofstad beseer is.

’n Sarsie mortierdoppe het die seefrontwoonbuurt Hamar Jajab getref, het Mucawiye Muddey, distrikskommissaris, aan AFP gesê.

“Onder die kritiek gewondes is ’n pasgetroude bruid en haar bruidegom en ’n gesin van drie kinders, ’n ma en hul pa.”

Al-Sjabaab-vegters het verskeie aanvalle in Somalië uitgevoer sedert Mohamud aan bewind gekom het.

Die Islamitiese groep is in 2011 deur ’n mag van die Afrika-unie uit die hoofstad verdryf, maar beheer steeds dele van die platteland en gaan voort om dodelike aanvalle op politieke, burgerlike en militêre teikens te loods, met gewilde hotelle en restaurante wat dikwels getref word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.