Charles en Diana: Dít vat die koek!

‘n Stuk van prins Charles en prinses Diana se troukoek. (Foto: Geoff Caddick / AFP)

Deur Dawid Brand

Terwyl die meeste van ons nie eens kan onthou hoe ons eie troukoek gesmaak het nie en blitsig deur ’n stowwerige fotoalbum moet soek om te sien of dit nou weer vrugte- of vanieljekoek was, is die bewaring van dié soetigheid ’n winsgewende onderneming. Mits jy natuurlik jou hande op ’n beroemde of befaamde se koek kan lê!

’n Sny van die Britse troonopvolger en die koningin van harte se troukoek is die afgelope week vir £1 850 (sowat R37 600) op ’n veiling verkoop, 40 jaar ná Charles en die skaam Diana se skouspelagtige troue op 29 Julie 1981.

Hoewel dié sny troukoek dalk vir 40 jaar bewaar gebly het, het die koninklike egpaar se paadjies ná net 11 jaar in 1992 geskei en hulle is in 1996, ’n jaar voor Diana se tragiese dood in ’n Paryse tonnel, amptelik geskei.

Die stuk vrugtekoek van 20 cm x 20 cm, versier met die rooi, blou, silwer en goue familiewapen, was destyds ’n geskenk van die koninginmoeder aan Moyra Smith, een van die destydse werknemers by Clarence House. Dit is slegs een skyfie uit die troukoek van vyf lae wat spesiaal en onder groot geheimhouding vir die sprokiestroue in die St. Paul-katedraal gebak is. Nog 22 ander troukoeke het vier dekades terug deel van die feesviering gevorm.

Smith het die bolaag met kleefplastiek bedek en dit in ’n ou koekblik gebêre met ’n handgeskrewe, ondertekende briefie: “Hanteer versigtig – prins Charles en prinses Diane (sic) se troukoek”. Haar gesin het die koek in 2008 vir £1 000 aan ’n versamelaar verkoop.

En die nuwe gelukkige koekkoper? Gerry Layton, ’n verhuurder van luukse bote in Leeds in die Verenigde Koninkryk (VK). Volgens Layton sal dit deel van sy boedel vorm wat ná sy dood, getrou aan Diana se lewensbydrae, aan liefdadigheid geskenk sal word.

Volgens Chris Albury, ’n spesialis in koninklike gedenkwaardighede van Dominic Winter Auctioneers in Gloucestershire, is die bod op £300 geopen en is daar verwag dat die hamer op £500 sou val. Bieërs uit die VK, die VSA en verskeie lande in die Midde-Ooste het die prysklitser egter gou aanlyn en telefonies op sy vinnigste verstelling geplaas.

Nog ’n stukkie van dié troukoek, in ’n oorspronklike herdenkingsboksie, is in Desember vir $2 240 (bykans R33 000) in die VSA verkoop.

Nog ikoniese Diana-items onder die hamer

  • Diana het met een van die mees ikoniese klerekaste in die geskiedenis gespog. Een van haar menigte rokke wat die koppe laat draai en die verbeelding aangegryp het, was die Victor Edelstein-fluweelskepping waarin sy en John Travolta die Amerikaanse Withuis se dansbaan in 1985 aan die brand getiekiedraai het. Dié rok is in Desember 2019 vir £264 000 (byna R5,4 miljoen) verkoop.
  • In Maart vanjaar het ’n versameling handgeskrewe briewe en kaartjies deur Diana ’n stewige veilingsbedrag van £67 900 (sowat R1,38 miljoen) gehaal. Dié 40 briewe en groetekaartjies is deur die Cornwall-afslaer David Lay beskryf as ’n belangrike en opwindende versameling. Die hoogste bedrag vir ’n enkelitem was £7 200 (sowat R146 000) vir ’n brief uit 1996 waarin sy die koningin as “die baas” beskryf.
  • Diana se Ford Escort, wat sy in Mei 1981 as verlowingsgeskenk by Charles gekry het, is in Julie vanjaar vir £52 640 (meer as R1 miljoen) aan ’n Suid-Amerikaanse museum verkoop. Die motor spog steeds met sy oorspronklike Britse nommerplaat, WEV 297W, verf en stoffering, en het (net) 133 575 km afgelê.
  • Selfs Diana se fietse spring nie die hamer vry nie. In Mei het ’n blou Raleigh-fiets wat Diana gebruik het toe sy in Londen gewoon het, vir £44 000 (byna R900 000) verkoop. Haar rooi kindertydfiets (wat ’n mens aan die eertydse Chopper-fietse herinner) kom glo ook binnekort onder die hamer. Nadat Diana die fiets ontgroei het, het Maudie Pendrey, een van die huishoudsters in haar kinderjare, die fiets vir £20 gekoop toe graaf John Spencer (Diana se pa) van hul huishoudelike items opgeveil het. Dit is later deur Pendrey se seun in 2007 op ’n veiling verkoop en is tot onlangs in die House On The Hill Toy Museum in Essex vertoon. Die fiets spog met sy oorspronklike (enorme) sitplek, wiele en blink modderskerms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie J

Tipies Charlie wat sy neus opgetrek het vir so n stukkie troukoek!

Belinda

Wens ekt geld soos die mense gehad om te spandeer op gemors soos n ou stuk koek…

Adri

Koek kan nie proe nie; koek smaak lekker of sleg. Al was dit soet, het dit later skynbaar bitter gesmaak.

Vonkprop

Kan die Britte nou asseblief Diana met rus laat. Hoeveel goed moet nou nog verkoop word. Sit dit in ‘n Diana museum sodat mense dit op hulle eie kan gaan kyk en ons nie elke maand na nog goed moet kyk en luister nie.