Charles se eiergooier in die hof

Die voorval in Luton (Foto: ArchewellBaby/Twitter)

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy verlede maand ʼn eier na koning Charles III gegooi het, het Maandag in ʼn hof in Engeland verskyn.

Die 21-jarige Harry Spartacus May van Luton, noord van Londen, staan tereg op aanklag dat hy die openbare orde oortree het. Hy het glo die eier na Charles gegooi toe die koning die dorp op 6 Desember besoek het.

Staatsaanklaers was suksesvol in hul aansoek dat die saak deur die hoofmagistraat aangehoor moet word – waar die mees sensitiewe sake aangehoor word.

Die volgende verhoor sal Vrydag by die Westminster-magistraatshof in sentraal-Londen plaasvind, het die BBC berig.

May het nog nie gepleit nie. Hy word daarvan beskuldig dat hy dreigende of beledigende woorde gebruik of gedrag getoon het wat neerkom op teistering of wat angs by iemand kon wek.

Die 74-jarige Charles was in Luton om met leiers van die gemeenskap en vrywilligersorganisasies te vergader. Hy het ook ʼn nuwe openbarevervoerstelsel besoek en ʼn Sikh-tempel geopen.

Die voorval was minder as ʼn maand ná eiers na Charles en koningin-gemalin Camilla in York gegooi is deur ʼn man wat geskree het “hierdie land is gebou deur die bloed van slawe” en “nie my koning nie”.

Charles het koning geword ná sy ma, koningin Elizabeth II, se afsterwe in September. Daar was betogings teen die oorerflike beginsel van monargie waarvolgens Charles as staatshoof oorgeneem het.

May is steeds uit op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.