Chileense vliegtuig verdwyn, tientalle vermis

Argieffoto ter illustrasie van ‘n C-130 Hercules-vliegtuig. (Foto: Pixabay)

’n Militêre vliegtuig van Chili in Suid-Amerika het Maandagmiddag spoorloos verdwyn met 38 mense aan boord.

BBC berig die C-130 Hercules-vliegtuig het omstreeks 16:55 plaaslike tyd uit Punta Arenas opgestyg waarna operateurs net ná 18:00 kontak met die vliegtuig verloor het.

Die Chileense lugmag het in ’n verklaring gesê die vliegtuig was op pad na Antarktika met 17 bemanningslede en 21 passasiers aan boord.

NBC News berig die vliegtuig sou personeel vervoer na ʼn drywende pyplyn in Antarktika wat brandstof voorsien.

Genl. Eduardo Mosqueira, ʼn offisier in die Chileense lugmag, het aan plaaslike media gesê die vliegtuig het geen noodsein geaktiveer op pad na Chili se Presidente Eduardo Frei Montalva-basis op Antarktika se King George-eiland nie.

Luidens die verklaring het die vliegtuig reeds sowat 724 km van die 1 240 km na Antarktika afgelê toe dit kontak met operateurs verloor het. Dít plaas die vliegtuig binne die Drake Passage, ʼn watermassa wat die Suid-Atlantiese Oseaan en die Suidelike Stille Oseaan verbind. Dié area is bekend vir stormagtige weersomstandighede.

Soek-en-reddingspanne is intussen ontplooi om na die vliegtuig te soek.

Mosqueira sê die vlieënier van die vliegtuig is baie ervare en het moontlik ’n noodlanding uitgevoer toe die vliegtuig se brandstof opgeraak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blommie ·

Baie ervare vlieenier, maar jou vliegtuig se brandstof is klaar.
Is dit die eerste keer dat die roete gevlieg word en nie seker was oor die afstand nie…
Hoop almal is veilig!

Jonathan ·

Suid Afrika se politici is ook “baie ervare”…. almal is mos deesdae…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.