China al meer onder skoot oor Covid-19

President Donald Trump. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

China kom al meer onder skoot oor sy deursigtigheid en hantering van die Covid-19-pandemie.

Pres. Donald Trump en sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het gesê intelligensie-agentskappe probeer vasstel of Covid-19 sy oorsprong in ʼn laboratorium in Wuhan, China, gehad het. “Die blote feit dat ons nie die antwoorde het nie en dat China nie die antwoorde gedeel het nie, dink ek is baie tekenend,” het Pompeo gesê.

China het egter Vrydag teruggekap ná dié bewerings en voer aan die VSA probeer om die fokus weg te skuif van sy eie gebreke rakende sy hantering van Covid-19.

Mike Pompeo en pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

“Enigiemand wat oordeelkundig te werk gaan kan met een oogopslag sien dat die VSA se doel bloot is om die publiek te verwar, aandag te trek en verantwoordelikheid te ontduik,” het Zhao Lijian, woordvoerder van China se departement van buitelandse sake, tydens ʼn daaglikse inligtingsessie gesê.

“Ons het al baie keer gesê dat die naspeuring van die virus se oorsprong ʼn ernstige wetenskaplike probleem is en dat dit wetenskaplike en professionele assessering vereis,” het Zhao gesê.”

Tot dusver is aangevoer dat die virus natuurlik by vlermuise ontstaan het en die algemeenste teorie is dat besmetting by mense begin het by ʼn seekosmark in Wuhan, waarskynlik van ʼn dier wat die virus van ʼn vlermuis gekry het.

ʼn Werker loop tussen beddens in ʼn konferensiesentrum wat tydelik omskep is in ʼn hospitaal vir pasiënte met die koronavirus in Wuhan, China. (Foto: Chinatopix, AP)

Wuhan se instituut vir virologie spesialiseer in navorsing oor die verspreiding van sulke virusse van dier tot mens, maar tot dusver is daar geen bewyse om die teorie te rugsteun dat die virus uit dié laboratorium kom nie.

Dit het ook Vrydag aan die lig gekom dat minstens 50% meer mense in Wuhan gesterf het as wat voorheen bekend gemaak is. Nog 1 290 sterftes is aangemeld wat die dodetal in Wuhan op 3 869 te staan bring. Die Chinese staatsmedia het die teenstrydigheid toegeskryf aan die van die gesondheidsorgstelsel wat oorweldig is tydens die uitbreking.

Daar is lankal vrae oor die akkuraatheid van China se rapportering van Covid-19-gevalle, veral in Wuhan.

Foto: (Martial Trezzini/Keystone via AP)

Dit kom nadat daar in Januarie vir dae lank geen nuwe gevalle of sterftes aangemeld is nie. Dit het gelei tot beskuldigings dat China gepoog het om die impak van die uitbreking te probeer beperk en geleenthede verspeel het om dit vinniger onder beheer te bring.

Volgens berigte is ʼn groep mediese personeellede, insluitend ʼn dokter wat later aan Covid-19 dood is, deur die Chinese polisie gedreig omdat hulle mense via sosiale media van die virus in kennis probeer stel het.

Die Chinese owerheid ontken ten sterkste dat hy gevalle probeer verbloem het. Die WGO het ook onder skoot gekom omdat hy vir China in die bres getree het oor die land se hantering van die uitbreking. Meer as 3 000 mense het positief vir Covid-19 getoets voor die Chinese regering die publiek in kennis gestel het van die moontlikheid van ʼn pandemie. Die risiko van mens-tot-mens-oordag is ook aanvanklik afgemaak. Die Chinese het selfs die VSA vir die uitbreking blameer.

Peter Dutton. Foto: (AP Photo/Rod McGuirk)

Australië het intussen ook deursigtigheid van China oor die oorsprong van die koronavirus geëis. Peter Dutton, dié land se minister van binnelandse sake, voorspel dat die wêreld sy betrekkinge met China, Australië se belangrikste handelsvennoot, sal heroorweeg weens die pandemie.

Dutton het onlangs herstel van Covid-19 nadat hy dit vermoedelik tydens ʼn besoek aan Washington DC opgedoen het.

Dutton het Vrydag aan Nine Network gesê Chinese inmenging in ander lande en betrokkenheid in kuberspioenasie “sal weer ondersoek moet word”.

“Wanneer jy ʼn kommunistiese party het wat nie die deursigtigheid het wat ander vergelykende ekonomieë het nie, dan is dit ʼn probleem.”

Marise Payne, Australiese minister van buitelandse sake, het ook intussen gesê dat sy met Pompeo gepraat het oor die WGO en dat sy saamstem dat die werksaamhede van dié internasionale agentskap hersien moet word.

Dit kom nadat Trump sy administrasie opdrag gegee het om die VSA se finansiering vir die WGO te staak. Trump voer aan dat die agentskap nie vroeg genoeg of voldoende verslae gelewer het omtrent die pandemie nie en gevolglik die VSA kosbare reaksietyd gekos het.

Dominic Raab. Foto: (Andrew Parsons/10 Downing Street/ via AP)

In Brittanje het Dominic Raab, minister van buitelandse sake, intussen gesê China het “moeilike vrae” om te beantwoord oor hoe die koronavirus-pandemie begin het.

Raab het gesê die wêreld moet uitvind wat in China gebeur het tydens die eerste paar dae van die pandemie. Raab is tans waarnemende premier nadat Boris Johnson positief vir Covid-19 getoets het en ná hospitaalbehandeling nou tuis aansterk.

Raab het gesê ʼn hersiening van alle aspekte van die pandemie, insluitend die oorsprong daarvan, moet op die wetenskap gegrond wees, op ʼn “gebalanseerde wyse” uitgevoer word, en het bygevoeg dat daar “geen twyfel is dat ons ná dié krisis nie soos gewoonlik sake sal kan doen nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Die Wolf ·

Mooi maak die deur toe. Vlermuise se voet. Hoekom is die persone wat inligting wou gee missing in action? My opinie, daar is al klaar bewyse by die genoemde lande en dit is hoekom hulle die nekke begin styfmaak. You can bluff people some of the time, but not all the time.

Johann ·

Maar SA (die ANC REGERING) staan hand om die blaas met hulle Chinese tjommas?????

Marthinus W ·

Wuhan was gasheer vir die 2019 World Military Games (18 – 27 Oktober). Meer as 9000 soldate van 109 lande het deelgeneem. Amerika se deelnemers het besonder swak vertoon, en het slegs die 35ste posisie behaal. Vyf van hulle is opgeneem met “malaria”-tipe simptome. Hulle het 300 meter van die mark waar die virus uitgebreek het, gebly; 42 werknemers van die hotel waar hulle gebly het, is met die virus besmet. Voor hulle China toe is, het hulle naby Fort Detrick in Maryland, Amerika se biologiese oorlogvoeringslaboratorium, geoefen.

Die “vape-epidemie” in Amerika het gedurende Augustus 2019 uitgebreek het. n Maand tevore is Fort Detrick gesluit weens ongeruimdhede. (Daar is tans op die Withuis se webbladn petisie om die rede daarvoor bekend te maak.) `n Briljante Harvard-professor, Charles Lieber, is skielik gearresteer, omdat hy namens China navorsing oor die koronavirus doen.

Therese ·

Verduidelik wat hier beduie word, asseblief?
China en sy bondgenote sal uiteraard allerande stories móét uitdink.
Natuurlik met die geesdriftige samewerking van die Amerikaanse president se talle vyande. Australië is gelukkig lankal terdeë bewus van China se streke.

Die Wolf ·

Sluit Brittanje in. Jy kan niks glo wat uit die Chinese se monde kom nie. Klink vir my baie soos by die huis.

Die Wolf ·

Hierdie is weer n wolhaarstorie. Die politieke partye in die VSA is so deurtrek van korrupsie en rugstekery dat hulle alles in hulle vermoe sal doen om die verkiesing te wen. Jy arresteer nie sommer n persoon soos Lieber sonder enige rede nie. Tyd sal wel leer. Indien dit dalk die vape was soos jy beweer, behoort daar n teenmiddel te wees. Dink jy vir een oomblik dat die VSA mense sal opoffer om dit weg te steek. Dit is suiwer moord en die regering sal beslis nie politieke moord pleeg nie.

Rodger17 ·

SA is diep in china ingekruip want hulle is bedelaars.SA is klaar n kommunistiese staat.Kyk hoeveel chinese bly hier en het besighede hier.China betaal sy burgers om hier te kom bly.China het hul voet sommer baie goed in die deur in SA.China veroorsaak regoor die wêreld net probleme.Almal moet china begin opsy skuif.SA kannie want hul skuld china te veel geld!Ons is gedoem!

ES ·

China, julle stouters! Ek wens ons regering wil die selfde eis van China af aangesien hulle ons grootste handelsvennoot is.

Bets ·

Ja eerste keer dat ek ook hoor vlermuise dra dit storie China het probleem veroorsaak nou moet hulle dinge reg maak

Cherokee ·

netekalleen, (trou sou ‘n opsie wees, natuurlik, maar dan moes jy van naam verander!) ek is ook aan die verwônner oor al hierdie dinge, en weet steeds nie wat is die waarheid, omdat oom Donald (vir die eerste keer) ook sê die virus is in Wuhan se laboratoriums ontwikkel.

Jr ·

Aids en Hiv was ook aan diere geblameer. Maklik om dit te doen. China is oor bevolk en hulle soek plek vir hulle mense. Donald Trump is nie so dom soos mense dink nie. SA se govt sal niks doen of sê nie want dis hulle kommunisties se meesters

Pio ·

China moet minder Amerikaanse vlieks kyk!! Die vlermuis en vark storie klink vir my baie bekend?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.