China: Kinders glo van ouers geskei midde stygende Covid-19-gevalle  

Verlate strate in die Yangpu-distrik in Shanghai (Foto: AFP)

Byna soveel as 25 miljoen inwoners van Shanghai in China is onder bevel om tuis te bly terwyl daar berigte is dat kinders en ouers onder dwang geskei word in die geval van ʼn positiewe Covid-19-toets.

Shanghai is tans die episentrum van China se ernstigste Covid-19-uitbreking sedert die eerste maande van die pandemie met gefaseerde inperkings wat die afgelope weke ingestel is. Volgens staatsmedia is meer as 14 miljoen van die stad se inwoners Vrydag vir Covid-19 getoets.

Intussen word daar berig dat kinders wat positief toets vir Covid-19 van hul ouers geskei word. Shanghai sal “tydelike ondersteuning aan jeugdiges” bied wat onbewaak gelaat word weens redes soos dat hul ouers met Covid-19 besmet is, het Zeng Qun, adjunkhoof van Shanghai se burgerlike sakeburo, volgens die staatsmediahuis Xinhua gesê. Daar sal ʼn “tydelike voog” toegeken word of die kinders sal na fasiliteite oorgeplaas word vir spesiale sorg, lui die berig.

China het Sondag 13 000 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld, die meeste sedert die piek van die eerste pandemievlaag meer as twee jaar gelede. Volgens gesondheidsamptenare het hulle ʼn vermoedelike nuwe subtipe van die Omikron-variant in die Shanghai-omgewing geïdentifiseer.

China se “nul-Covid-19”-strategie is onder uiterste druk terwyl die virus regoor die land versprei. China kon tot in Maart vanjaar nog daarin slaag om daaglikse nuwe gevalle uiters laag te hou met streng inperkings, massatoetsing en reisbeperkings.

Chinese is erg ongelukkig oor die jongste streng beperkings, in ʼn tyd dat ʼn groot deel van die wêreld weer oopgestel is.

Shanghai se owerhede het toegegee dat hulle sukkel om die uitbreking te beperk, met duisende wat nou in staatskwarantyn is. Woede neem toe onder inwoners oor die inperkings wat aanvanklik beplan was om net vir vier dae te duur, maar dit lyk nou waarskynlik dat dit nog lank sal duur terwyl daar met massatoetsing voortgegaan word.

China, die land waar die koronavirus die eerste keer in die sentrale stad Wuhan aan die einde van 2019 opgespoor is, is een van die laaste oorblywende lande wat ʼn “nul-Covid-19”-benadering tot die pandemie volg.

Michael Ryan, die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur van noodgevalle, het verlede week gesê dit is belangrik vir alle lande, insluitend China, om ʼn plan te hê om pandemiebeperkings te beëindig.

Hy het egter bygevoeg dat China se groot bevolking ʼn unieke uitdaging aan sy gesondheidstelsel stel en dat owerhede ʼn strategie sal moet definieer wat hulle in staat stel om die pandemie veilig te bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

E ·

Ek sou se dit geld die hele wereld. Al die rond gevlieg is wat die virus versprei. Daar is baie werke en vergaderings wat aanlyn gehou kan word. Kweek en koop sommer ook julle eie kos in julle land. Die kos wat so oral uitgevoer word versprei ook dier siektes ens.

Jr ·

Wees versigtig want hierdie communistise
move – ie could come to a teater naby jou. Vervaardig deur kopdoek movies

Christine ·

Deel van ons nuwe Gesondheidswet. Nou weet ons waar kom die idees vandaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.