China laat vaar planne om kaartjies vir Spele te verkoop

Die Olimpiese ringe in Tokio. (Foto: Philip Fong/AFP)

China het Maandag planne gekanselleer om kaartjies vir die publiek te verkoop vir die Winter Olimpiese Spele in Beijing, terwyl die getal Covid-19-gevalle die hoogste piek bereik het sedert Maart 2020.

Organiseerders het verlede jaar gesê daar sal nie enige internasionale toeskouers by die Spele toegelaat word nie weens China se kwarantyn-vereistes, maar hulle het onderneem om plaaslike toeskouers toe te laat.

Dié planne is egter Maandag laat vaar toe China 223 nuwe gevalle aangemeld het net drie weke voor die Winter Spele begin.

“Om die gesondheid en veiligheid van personeel en toeskouers te verseker, is die besluit geneem om die oorspronklike plan te wysig om kaartjies aan die publiek te verkoop,” het die Beijing Olimpiese komitee in ʼn verklaring gesê. Volgens die komitee sal daar wel toeskouers “op die perseel” toegelaat word. Dit is egter nog nie duidelik hoe dié toeskouers gekies gaan word en of hulle voor en ná die Spele in kwarantyn sal moet bly nie.

Atlete en beamptes het reeds in die land aangekom voor die Spele. Hulle moes dadelik na ʼn gebied beweeg waar daar streng kontrole toegepas sal word om hulle van die res van die bevolking te skei.

Ná ʼn plaaslike geval van die hoogs aansteeklike Omikron-variant oor die naweek in Beijing aangemeld is, het owerhede ook regulasies verskerp vir persone wat van elders in China in die hoofstad aankom. Beijing vereis nou ʼn negatiewe toets voor jy reis en ʼn toets ná jy geland het. Inwoners is gemaan om nie die stad te verlaat vir die Nuwejaarsdag wat binnekort gevier word nie.

Sommige toeristebestemmings is reeds gesluit.

Bedreiging deur die pos

ʼn Senior gesondheidsbeampte het aan inwoners gesê hulle moet nie goedere van oorsee af koop nie, ná ʼn plaaslike geval vermoedelik veroorsaak is deur ʼn internasionale pakkie wat opgedaag het. Die vrou in Beijing, wat die virus opgedoen het, het nie gereis nie en ook nie kontak gehad met enige ander mense wat Covid-19 opgedoen het nie. Owerhede sê hulle het ongeveer 13 000 mense getoets wat in dieselfde gebied woon en werk.

Pang Xinghuo, gesondheidsbeampte, het aan verslaggewers gesê die virus is op die oppervlak van ʼn brief opgespoor wat die persoon van Kanada af ontvang het.

Talle briewe uit dieselfde besending is getoets en vyf het spore van Covid-19 getoon, aldus Pang.

Dié variant is anders as Omikron-gevalle in China en soortgelyk aan variante wat verlede maand in Noord-Amerika geïdentifiseer is.

“Ons het bepaal daar is ʼn moontlikheid dat die virus oorgedra kan word deur pakkies wat van buite af versend word. Inwoners moet dus probeer voorkom om goedere van oorsee af te bestel tydens uitbrekings. As jy pos van oorsee af ontvang, dra jou masker en weggooi-handskoene om direkte kontak te vermy.”

Sy maan mense ook om pakkies eerder buite oop te maak.

Die sentrum vir siektebeheer en voorkoming in die VSA sê op sy webwerf dit is “moontlik” dat mense deur kontak met besmette oppervlakte en voorwerpe die virus kan opdoen, maar “die risiko is laag”. Daar behoort binne drie dae ʼn 99%-afname in enige tekens te wees van die virus op ʼn oppervlak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Dit is belaglik. Die konsert duur voort en die skape volg die stroom…

Mieke ·

Omicron is die minste gevaarlik en is so te sê gelykstaande aan ‘n gewone griep! Dis sommer belaglik dat daar nou so ‘n hengse inperking ingestel word. Hoog tyd dat ons almal normaal kan voortgaan!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.