China sê busontploffing in Pakistan was ʼn bom

Minstens 12 is beseer in die vermeende bomaanval (14 Julie 2021) (Foto; AFP)

Owerhede in Beijing het gesê nege Chinese werkers is onder die 12 mense wat Woensdag dood is tydens ʼn bomaanval op ʼn bus in die noordweste van Pakistan en versoek swaar vonnisopleggings. Islamabad beweer egter die ontploffing was ʼn gaslekkasie.

Die bus het sowat 40 Chinese ingenieurs, landmeters en ander personeel na ʼn hidro-elektriese dam se konstruksieperseel in die Khyber Pakhtunkhwa-provinsie vervoer toe die ontploffing plaasgevind het.

Islamabad is Beijing se naaste streeksvennoot, maar die veiligheid van Chinese werkers in Pakistan is ʼn voortgesette probleem. Groot getalle Chinese werkers is in Pakistan gebaseer as toesighouers en bouers van infrastruktuurprojekte.

Pakistan se ministerie van buitelandse sake het in ʼn verklaring gesê die bus het in ʼn ravyn neergestort ná ʼn meganiese fout. Dit het ʼn gaslekkasie en toe die ontploffing tot gevolg gehad.

Zhao Lijian, woordvoerder vir China se ministerie van buitelandse sake, het sy skok uitgespreek en die bomaanval veroordeel. Hy maan Pakistan om diegene wat verantwoordelik is “swaar te straf” en Chinese burgers en projekte “streng te beskerm”.

Die Chinese ambassade in Islamabad het vroeër ook gesê sy burgers het “onder aanval” gekom.

Albei lande het gesê nege Chinese werkers en drie Pakistani’s is dood in die ramp wat omstreeks 07:00 plaasgevind het.

Arif Khan Yousafzai, ʼn senior regeringsbeampte in die Kohistan-distrik waar die ontploffing plaasgevind het, het gesê minstens 28 persone is beseer.

Owerhede in Pakistan het gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur.

Konstruksiewerk aan die Dasudam op die Indusrivier het in 2017 begin en sou binne vyf jaar afgehandel gewees het, aldus die Pakistanse water- en elektrisiteitsontwikkelingsowerheid.

Die Taliban in Pakistan het in April verantwoordelikheid aanvaar vir ʼn dodelike selfmoordbomontploffing by ʼn luukse hotel in Balochistan waar die Chinese ambassadeur tuisgegaan het. Die ambassadeur is nie beseer nie. Die groep het onlangs beweer hulle is verantwoordelik vir ʼn rits aanvalle – nie net in Pakistan se gebiede op die Afghanistan-grens nie, maar ook in die land se stede, insluitend die hoofstad Islamabad.

Beijing het die afgelope paar jaar miljarde dollar in Pakistan ingestort om die land se infrastruktuur op te knap. Chinese projekte word egter veroordeel, veral deur groepe wat sê plaaslike inwoners trek nie voordeel daaruit nie omdat uitlanders die werk doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Pakistan moet versigtig wees met hul dade en uitlatings. Daai chinese beursie kan baie skielik baie styf toegaan en die werkers teruggeroep word vir “ander projekte van nasionale belang”.

Miskruier ·

Die Chinese gebruik hul eie mense, dit gebeur oral ter wereld.

Het ondervinding ·

Ek dink ‘n wilde vlermuis het in die bus vasgevlieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.