China se militêre oefeninge om Taiwan duur voort

Taiwan se president Tsai Ing-wen (Foto: Sam Yeh/AFP)

China het vir ʼn tweede dag met militêre oefeninge om Taiwan voortgegaan.

Taiwan het Sondag 11 Chinese oorlogskepe en 70 vliegtuie om die eiland waargeneem, het sy departement van verdediging gesê.

Die nabootsing van militêre aanvalle op Taiwan kom nadat die land se president samesprekings met Kevin McCarthy, speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, in Los Angeles gehou het.

Die Chinese staatsuitsaaier CCTV het Sondag gesê daar is tydens die oefeninge “presisieaanvalle teen sleutelteikens op die eiland van Taiwan en omliggende waters gesimuleer”.

Taiwan se president Tsai Ing-wen het die militêre oefeninge veroordeel en onderneem om saam met “die VSA en ander eendersdenkende lande” te werk in die aangesig van “voortgesette outoritêre uitbreidingsgesindheid”.

Washington het ʼn beroep op selfbeheersing gedoen en gesê dat hy “Beijing se optrede fyn dophou”.

’n Woordvoerder van die staatsdepartement het gesê die VSA het “konsekwent aangedring op selfbeheersing en geen verandering aan die status quo nie”, maar het opgemerk dat dit oorgenoeg hulpbronne het om sy veiligheidsverpligtinge in Asië na te kom.

Die VSA verkoop al dekades lank wapens aan Taipei om sy selfverdediging te help verseker.

China beskou die demokraties selfregerende Taiwan as deel van sy grondgebied en het onderneem om dit eendag af te neem, met geweld indien nodig.

“Hierdie operasies dien as ’n streng waarskuwing teen die samespanning tussen separatistiese en eksterne magte wat ‘Taiwan-onafhanklikheid’ soek en teen hul uitlokkende aktiwiteite,” het Shi Yin, ’n woordvoerder van die Chinese People’s Liberation Army (PLA), gesê.

Taiwan is op ’n hoë gereedheidsgrondslag en het gesê dat sy magte “goed voorbereid sal wees en volle gevegsgereedheid sal handhaaf”, terwyl hulle seker maak om nie “konflik te verhoog nie”.

Die oefeninge het gevolg enkele ure nadat die Franse president Emmanuel Macron China verlaat het. Hy het sy Chinese eweknie Xi Jinping besoek om hom aan te spoor om te help om ’n einde aan die oorlog in Oekraïne te bring.

China het ook in Augustus verlede jaar oorlogskepe, missiele en vegvliegtuie om Taiwan ontplooi in sy grootste magsvertoning in jare nadat McCarthy se voorganger, Nancy Pelosi, die eiland besoek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.