China stuur eerste span na nuwe ruimtestasie

Nie Haisheng (bevelvoerder), Liu Boming en Tang Hongbo is deel van die Shenzhou-12-ruimtevaart (Foto: China-ruimteagentskap CMS)

Ruimtevaarders sal Donderdag op China se eerste bemande vaart vertrek na sy nuwe ruimtestasie. Hulle sal kan kies tussen 120 verskillende tipes kos en “ruimte-oefenmasjiene”, het China se ruimteagentskap gesê.

Dit is tot dusver China se langste bemande ruimtevaart en die eerste in byna vyf jaar. Beijing wil homself as ʼn ruimtemag vestig met dié ambisieuse program.

Die drie ruimtevaarders sal drie maande op die Tiangong-stasie spandeer wat afsonderlike verblyfmodules vir elke ruimtevaarder het met ʼn gedeelde badkamer, eetkamer en ʼn kommunikasiesentrum sodat hulle e-posse kan stuur en videogesprekke kan voer met grondbeheer.

Die Long March-25-vuurpyl sal om 09:22 plaaslike tyd (0122 GMT) lanseer van die Jiuquan-lanseersentrum in die Gobi-woestyn, het die ruimteagentskap bygevoeg.

“Ons het oor die afgelope paar dekades verskeie wonderlike hoofstukke in China se ruimtegeskiedenis geskryf. Hierdie ruimtevaart is ʼn teken van die verwagting van die mense en die party self,” het bevelvoerder van die vaart, Nie Haisheng, aan verslaggewers by ʼn perskonferensie gesê.

Sy span het 6 000 uur opleiding ondergaan insluitend honderde onderwater-bollemakiesies, geklee in die volledige ruimtepak sodat hulle gewoond kon raak aan die uitrusting.

Nie was een van die eerste Chinese ruimtevaarders wat in 1998 vir die opleiding gekies is. Hy was reeds op twee ruimtevaarte. Hy is ʼn ervare lugmagvlieënier en die twee ander ruimtevaarders is ook lede van die Chinese weermag.

Op ʼn vraag oor wat in sy bagasie is, het Nie, wat tans in kwarantyn is saam met die ander ruimtevaarders, gesê sy tas is “vol goed vir vermaak en om klein kuiers te hou”.

Bemanningslid Tang Hongbo het in ʼn afsonderlike onderhoud met die openbare uitsaaier CCTV gesê hy het video’s van sy alledaagse lewe met sy vrou en seun geneem sodat hy daarna kan kyk op die ruimtestasie.

Nog elf ruimtevaarte word oor die volgende jaar en ʼn half beplan om die konstruksie van Tiangong in wentelbaan af te handel, insluitend om sonkragpanele en twee laboratoriummodules by te voeg.

Die ruimtevaarders sal deurlopend die stelsels aan boord toets en in stand hou en wetenskaplike eksperimente uitvoer.

Die internasionale ruimtestasie, ʼn vennootskap tussen die VSA, Rusland, Kanada, Europa en Japan, sal na verwagting in 2024 uit diens gestel word, alhoewel Nasa aangedui het die stasie kan moontlik tot ná 2028 funksioneel bly.

Tiangong sal na verwagting ʼn leeftyd van minstens 10 jaar hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

john ·

those guys got guts ruimte toe in a “made in China”” ruimte tuig.

Dirk Mostert ·

Onderskrif op R.T.-kanaal vanoggend: “Thousands want George Bezos to stay in space”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.