China verwerp bewerings van diskriminasie teen Afrikane

Zhao Lijian, Chinese woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake (Foto: Twitter/ANA)

Die Chinese regering verwerp berigte van beweerde diskriminasie en mishandeling van Afrikane wat in Guangdong-provinsie bly en werk. Die regering hou vol almal word regverdig en met menswaardigheid en respek hanteer.

“Tydens ons stryd teen die koronavirus (Covid-19) heg die Chinese regering baie waarde aan die lewens en welstand van uitlanders in China,” het Zhao Lijian, woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake, Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Alle uitlanders word gelyk behandel. Ons verwerp ongelyke behandeling en ons duld nie diskriminasie nie. Sedert die uitbreking het die owerhede in Guangdong ook baie waarde geheg aan die behandeling van uitlanders, insluitend burgers van Afrika,” het hy bygevoeg.

Die Suid-Afrikaanse regering het Sondag sy kommer uitgespreek oor bewerings van diskriminasie teen Afrikane wat in China woon en werk. “As voorsitter van die Afrika-Unie (AU) is Suid-Afrika baie besorg oor berigte dat Afrikane swak behandeling in China ontvang, insluitend dat hulle sonder toestemming getoets word vir Covid-19, in kwarantyn geplaas word en ander onmenslike behandeling,” het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking in ʼn verklaring gesê.

Suid-Afrika het benadruk die berigte van beweerde diskriminasie en mishandeling is strydig met die “uitstekende verhouding wat tussen China en Afrika bestaan”.

Zhao het gesê spesifieke planne en behoorlike reëlings is gemaak om uitlanders se lewens en welstand “tot die beste van ons vermoë” te beskerm, “en dit het tot die bewaring van sommige Afrika-pasiënte gelei wat in ernstige en kritieke toestande was”.

“Die owerhede in Guangdong beskou die kommer van sommige Afrikalande in ʼn ernstige lig en werk dringend daaraan om hul metodes te verbeter. Dié maatreëls sluit in om gesondheidsdienste aan te bied op ʼn gelyke vlak, om hotelle te identifiseer vir uitlanders wat mediese waarneming benodig en prysaanpassings vir diegene wat in ʼn finansiële verknorsing is; asook doeltreffende kommunikasie met die internasionale konsulate-generaal in Guangzhou en om alle rassistiese en diskriminerende uitlatings te verwerp,” het Zhao bygevoeg.

“Die Chinese mense beskou Afrikane as vennote en broers deur dik en dun. Die China-Afrika-vriendskap kan nie gebreek word nie. Afrika-vriende kan steun op ʼn regverdige en vriendelike ontvangs in China.”

Zhao het Beijing se toewyding benadruk tot veelsydige pogings in die stryd teen Covid-19. “Die virus ken geen grense nie. Die pandemie, ʼn uitdaging vir die hele mensdom, kan slegs verslaan word deur gesamentlike internasionale pogings. Met gedeelde begrip, gedeelde ondersteuning en samewerking, is ons gereed om met ons Afrika-vriende saam te werk om ʼn finale oorwinning te behaal.”

Sedert die eerste gevalle van die koronavirus in Afrika aangemeld is, het die Chinese regering vinnig voorraad aan die kontinent verskaf, het Zhao bygevoeg.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

dis dan die land wat die swart PAC in hulle stryd teen rassisme en apartheid gehelp het. hoe dan nou?

Kobus ·

Amper verstik ek………………hulle voel niks vir hulle eie mense nie,wat nog vir ander.Die “oorwinning saam met hulle Afrika vriende” beteken eintlik “wanneer ons Afrika oorneem sonder om ‘n skoot te skiet”

Anel ·

O, ja. En kyk hoe behandel hulle die mense hier. Goedkoop arbeid. Wat het van die een geword wat wat die mense in ‘n fabriek aangehou het om ek dink dit was maskers, wat hulle moes maak? So moenie dat ek lag nie. Hulle sal mos nooit erken wat hulle in hulle land verkeerd doen nie. Vir hulle is dit reg.

BoerSonderRoer ·

“Uitstekende verhouding” is natuurlik: “Geldjie om te leen asb.”, en Sjina antwoord: “Graag”.

Fedup ·

Sounds exactly like this government. Nothing wrong, equality and nothing to see. Hell will probably freeze over.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.