China-vliegramp: Hoop vervaag om oorlewendes te vind

Soek- en reddingswerkers op die toneel van die vliegtuigongeluk (Foto: AFP)

Chinese soek-en‑reddingspanne het Dinsdag deur die puin gesoek waar ’n passasiersvliegtuig met 132 mense aan boord in die Guangxi-provinsie neergestort het.

Die hoop vervaag om enige oorlewendes te vind, wat dit China se dodelikste vliegtuigongeluk in byna drie dekades sal maak.

Volgens data van FlightRadar24 het die Boeing 737 sowat 20 000 voet geval in net minder as ’n minuut voor dit in ’n bergagtige gebied neergestort het. Die vliegtuig van die China Eastern-lugdiens was van Kunming na Guangzhou onderweg en het ’n reuse-bosbrand tot gevolg gehad nadat dit neergestort het.

President Xi Jinping het sy skok oor die voorval uitgespreek en ’n volledige ondersoek geëis.

In Guangzhou het lugdienspersoneel die geliefdes van die 123 passasiers en nege bemanningslede aan boord van die vliegtuig bygestaan.

Volgens China se Burgerlugvaartadministrasie het vlug MU5735 lugkontak oor Wuzhou, ’n stad in die Guangxi-streek, verloor. FlightRadar24 se data het gewys die vliegtuig het binne net meer as ’n minuut skerp gedaal van ’n hoogte van 29 100 voet tot 7 850 voet. Na ’n kort opswaai het dit tot 3 225 voet gedaal waarna daar geen verdere data vir die vlug was nie.

“Die maatskappy betuig sy innige meegevoel met die naasbestaandes van die passasiers en bemanningslede wat in die vliegtuigongeluk gesterf het,” het China Eastern laat Maandag in ’n verklaring gesê sonder om meer inligting te verskaf.

China het die afgelope paar jaar ’n benydenswaardige lugveiligheidsrekord geniet, ondanks ’n groot oplewing in die aantal reisigers.

China Eastern het sy webwerf Maandagmiddag na swart-en-wit verander en alle Boeing 737-vliegtuie in sy vloot gehok na die ongeluk.

Boeing het in ’n verklaring gesê hy “werk saam met sy lugdienskliënte en is gereed om hulle te ondersteun”.

Die dodelikste kommersiële vliegtuigongeluk in China was in 1994 toe ’n vliegtuig van Northwest Airlines neergestort het en al 160 mense aan boord dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.