China-vliegramp: Menslike oorskot gevind

Skermskoot van ʼn video deur staatsuitsaaier China Central Television (CCTV) via AFPTV wys reddingspanne by ʼn wrakstuk (24 Maart 2022) (Foto: Various Sources/AFP/China OUT)

Reddingspanne het Donderdag van hommeltuie en termiese beeldvormingstoerusting gebruik gemaak waar ʼn China Eastern-vliegtuig onverklaarbaar met 132 persone aan boord neergestort het.

Vier dae ná vlug MU5735 in die rowwe terrein naby Wuzhou in die suide van China neergestort het, het beamptes nog steeds nie al 123 passasiers en nege bemanningslede amptelik dood verklaar nie.

Menslike oorskot is gevind, het beamptes Donderdag bevestig. Die snelheid van die ongeluk, wat ʼn krater in die modderige grond veroorsaak en vliegtuigdele en persoonlike besittings oor ʼn groot gebied versprei het, bemoeilik opruimingswerk.

“Die grootste deel van die vliegtuigwrak is in ʼn kerngebied gekonsentreer binne ʼn radius van ongeveer 30 meter van die impak,” het Zhu Tao, woordvoerder van China se lugvaartowerheid, aan verslaggewers gesê. “Die diepte strek van die oppervlak tot ongeveer 20 meter.”

Maandag se ongeluk is China se ergste vliegtuigongeluk in drie dekades en pres. Xi Jinping het opdrag gegee dat ʼn volledige ondersoek dringend gedoen word.

ʼn Familielid het trane uit haar oë gevee en sy is deur twee mans ondersteun toe sy Donderdagoggend by die ongelukstoneel aangekom het, het ʼn AFP-verslaggewer gesê. Sy het in die gietende reën by brandbestryders, paramilitêre polisiebeamptes en verslaggewers aangesluit om die byna onbegaanbare terrein aan te durf waar dele van die vliegtuig gevind is. Dit is nog nie bekend waarom die vliegtuig neus eerste die grond getref het nie.

Honderde familielede van slagoffers het reeds in die Chinese stad aangekom en wag vir bevestiging van hul ergste vrees.

Beamptes wou Donderdag egter nog nie die moontlikheid laat vaar dat daar moontlik persone op die berg vasgekeer is nie.

“Die missie fokus spesifiek daarop om vir slagoffers te soek en lewens te red,” het Huang Shangwu van die Guangxi-brand-en-reddingsdiens, aan verslaggewers gesê. “Ons gebruik termiese beeldvormingstoerusting om die oppervlak te deursoek. Ons soek ook self en gebruik hommeltuie.”

Die span is terselfdertyd ook op soek na die oorblywende vlugopnemer ná ʼn beskadigde vlugopnemer uit die stuurkajuit Woensdag gevind is. Dié vlugopnemer is na Beijing gestuur vir analise. Kenners is vol verwagting dat dit leidrade sal verskaf oor die ongeluk van die vliegtuig wat van Kunming na Guangzhou op pad was.

China Eastern het ook Donderdag tydens ʼn perskonferensie gesê dat hy al 223 van sy Boeing 737-800-vliegtuie gehok het vir veiligheidsondersoeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Delia

Dankie dat julle alles moontlik doen om te verseker dat daar nie dalk iewers n oorlewende is nie