China woedend na VSA ‘weerballon’ neerskiet

Die ballon voordat dit neergeskiet is. (Foto: Twitter)

Die Amerikaanse regering het die naweek wat hy vermoed ’n “Chinese spioenasieballon” is, afgeskiet nadat dit dae lank oor Noord-Amerika gesweef het.

Die Chinese is woedend en hou vol dié ballon was bloot ’n onbemande weerwaarnemingstuig wat van koers af gedwaal het.

“Die VSA se optrede het albei kante se pogings en vordering in die stabilisering van Sino-Amerikaanse betrekkinge ernstig beïnvloed en skade berokken,” sê die Chinese adjunkminister van buitelandse sake, Xie Feng.

Die VSA is egter nie oortuig nie.

Die Republikeine is op hul beurt vies oor die Demokratiese president Joe Biden se trae hantering van die voorval en sê die ballon moes vroeër al afgeskiet gewees het. Biden word nou daarvan beskuldig dat hy China met handskoene hanteer.

Die ballon het etlike dae oor Noord-Amerika gevlieg voordat daar eindelik Saterdag beveel is dat ’n vegvliegtuig dit langs die kus van Suid-Carolina afskiet weens China se “onaanvaarbare skending” van Amerikaanse soewereiniteit.

Amptenare van die Pentagon het die ballon Vrydag as ʼn “waarnemingsballon op hoë hoogte” bestempel en gesê die nodige stappe is gedoen om te verhoed dat die tuig sensitiewe inligting insamel.

Chuck Schumer, die Demokratiese leier van die Amerikaanse Senaat, sê die afskiet van die ballon “was nie net die veiligste opsie nie, maar ook die opsie wat ons intelligensie-wins die meeste gebaat  het”.

“Ons het ’n duidelike boodskap aan China gestuur dat dit onaanvaarbaar is. Ons het burgerlikes beskerm. Ons het meer inligting ingewin terwyl ons ons eie sensitiewe inligting beskerm het.”

Mike Mullen, voormalige voorsitter van die Amerikaanse gesamentlike stafhoofde, het ook China se weergawe dat die tuig kwansuis van koers gewaai het, verwerp.

“Dit het skroewe. Dit was nie ʼn ongeluk nie. Dit was doelbewus. Dit was intelligensie.”

Dit word ook vermoed dat die ballon met opset gelanseer is om ’n voorgenome besoek deur Antony Blinken, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, aan China te ontwrig.

Blinken se besoek sou die eerste aan China deur ʼn Amerikaanse minister van buitelandse sake wees sedert dié van Mike Pompeo in 2018. Die besoek is nou afgelas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kobus ·

Ek verstaan nie altyd nie. VSA beweer dis ‘n spionasie ballon, waarom skiet hulle dit flenters? Sou dit nie beter wees om beslag te lê op die ballon en te bepaal watse tegnologie aan boord is nie?

Phumba ·

Die ballonne sweef baie hoog (tot 30Km). Die hoogste wat helikopters kan gaan is 8Km.

Harley Davidson ·

Ek glo nie Biden is in staat om sy huishouding te bestuur nie wat nog van ‘n land soos die VSA,bring pres Trump terug.

Cherokee ·

Harley Davidson, ek is ook ‘n Trump-aanhanger en ek begin wonder of dit regtig slim is om ‘n aanhanger van Donald Trump te wees. Die rede waarom vraagtekens begin opduik, is omdat die Russe en Sjinese ook Trump-aanhangers is. Lees Internasionale nuus en jy sal so sien. Dit laat jou wonder nè! Hoop nie die Biden-aanhangers ploeg nou met my kallers nie.

Nettie ·

Dit het oor Alaska beweeg, en daarna van Wes na Oos oor die hele VSA, en toe dit ander kant verby is, word dit afgeskiet. HOE het dit die burgers van die VSA beskerm?

Die Chinese beweer dis van koers af gewees, hoekom dan van Alaska Suidwaarts, en daarna reg oor die VSA? Nee wat, dis darem maar TE toevallig.

Hoekom skiet die Amerikaners die “payload” soos hulle dit noem flenters? Hoekom nie eerder die ballon, en herwin die “payload” en kyk wat dit behels!

Duidelik was hierdie gebeurtenis iets baie, baie anders as wat enige van die 2 lande bereid is om te erken.

Johan ·

n Weerbalon wat so ver van koers af is, is in elk geval verlore. Waarom dan woedend wees?

JohanR ·

‘n VSA ballon sou nie eers naby China se lugruim gekom het nie voordat dit afgeskiet is. Hoop as daai b allon ondersoek is dat dit ‘n spione ballon is. Dit sal nou die kat tussen die duiwe sit!

Martin ·

Dis goed daardie “spioenasie ballon” het nie oor Brakpan gevlieg nie anders sou die inwoners self die ballon neergeskiet het.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Ek sou gesharrup het as ek Amerika was, maar nee, hulle moet oor alles spog. Aan die anderkant, as dit net ñ eenvoudige weerballon was, waaroor is die Chinese so ontsteld. Ek ruik ñ rot!

Nommer 7 ·

Ek het ook al ‘n spioenasieballon afgeskiet met ‘n dubbelloop. By nadere ondersoek was dit toe ‘n kolgans. Als is nie wat ‘n mens dink dit is nie.

Jaco ·

Dis darem lelike optrede deur Joe Biden en sy hoogheilige Demokrate. Wat dan nou van human rights?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.