Chinese kitsmode maak skoonskip

Só lyk Shein se app op Apple.

Die Wall Street Journal het Woensdag berig Shein, die Chinese kitsmodemaatskappy, is pas gewaardeer vir $100 miljard (sowat R1,4 biljoen [“trillion”]) ná ʼn onlangse finansieringsronde.

Dit maak dié aanlyn klerehandelaar nou meer werd as handelsmerke soos H&M en Zara gesamentlik.

Volgens Business Insider het die finansieringsronde, wat verlede week gesluit het, tussen $1 miljard (sowat R14,5 miljard) en $2 miljard (sowat R29 miljard) vir Shein ingeoes.

Shein is nou meer werd as handelsmerke soos H&M en Zara gesamentlik. (Foto: Skermgreep van webwerf)

Shein is in 2008 gestig en is wêreldwyd bekend vir die verkope van goedkoop klere- en leefstylitems, met meer as 2 000 nuwe style wat daagliks tot sy katalogus gevoeg word.

Die maatskappy handhaaf ʼn op-aanvraag-sakemodel, wat beteken kledingstukke word in klein hoeveelhede aangebied en massaproduksie word slegs gedoen wanneer dit treffers raak.

Die maatskappy se aggressiewe sosialemedia-taktieke sluit in betaalde vennootskappe met beïnvloeders en bekendes soos Addison Rae en Madelaine Petsch, wat die handelsmerk help om nuwe Generasie Z-gebruikers in te katrol.

Dié jong gebruikers plaas dan weer onder meer TikTok-video’s en ander sosialemediaplasings waar hulle met groot bestellings en aankope spog.

Shein het verlede jaar Amazon verbygesteek as die inkopie-app wat die meeste in die VSA afgelaai word. Volgens ʼn verslag deur Earnest Research het dit ook in Junie verlede jaar die grootste kitsmodehandelaar in die VSA geword en handelsmerke soos H&M, Zara en Forever 21 verbygesteek.

Nie net maanskyn en rose

Shein verkoop ‘n massiewe verskeidenheid klere- en leefstylitems.

Die maatskappy se vinnige groei is egter nie sonder enige omstredenheid nie. Buiten die uitwerking wat kitsmode op die omgewing het, is Shein ook daarvan beskuldig dat hy ontwerpe namaak.

Mariama Diallo, ʼn modeontwerper, het Shein op Twitter verlede jaar daarvan beskuldig dat die maatskappy haar klerereeks, Sincerely Ria, namaak.

Kunstenaars het ook gekla oor hulle ontwerpe wat deur die maatskappy gesteel word. Vanessa Bowman, ʼn olieverfkunstenaar, het verlede maand aan The Guardian gesê een van haar werke is op ʼn Shein-produk gebruik sonder haar toestemming.

Kopers het ook gekla oor die swak gehalte van Shein se kledingstukke. Meer as 1 100 klagtes oor Shein is by die Better Business Bureau ingedien.

Shein het nie dadelik op Insider se versoek vir kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

B-Man ·

Ek en my vrou het self al daar bestel. Kan nie sien hoekom ek na een van die plaaslike handelsmerke moet gaan waar hulle 1000% plus wins maak nie. Al probleem wat ek ondervind het is dat waar ek gewoonlik ‘n “Large” was, sien die Chinese my as ‘n XXL.

Yolandi ·

Ek het al ‘n paar keer op Shein bestel. Ek was nog altyd tevrede met die kwaliteit. Die geheim is om elke item se resensies deur te werk voordat jy dit bestel.

Misky ·

Kollega by die werk het by hulle bestel en was baie ongelukkig en na maande se wag het helfte van die bestelling gekom en sy gesukkel om haar geld terug te kry. Ou einde net tou ingegooi en gesê nooit weer nie. Ek is maar versigtig met klere aanlyn koop en wil iets sien en materiaal se kwaliteit voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.