Chinese man wat polisie ‘beledig’, lank aangehou

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: ANA)

ʼn Man van China is dae lank deur die polisie aangehou nadat hy ʼn foto op ʼn sosialemediagroep gedeel het wat glo die polisie beledig het.

Die man, wat slegs as Li geïdentifiseer is, het nege dae in die selle deurgebring terwyl die polisie hom herhaaldelik oor die foto ondervra het, berig CNN.

Li het na bewering ʼn foto van ʼn hond in ʼn polisiehoed op die Chinese sosialemediaplatform WeChat gedeel. Die hond hou ʼn kenteken vas en wys na die kamera. Dié foto word glo algemeen gebruik met verskillende variasies wat soms ʼn kat of ʼn tekenprentkarakter in die polisiehoed uitbeeld.

Die foto is verlede maand op ʼn groep van 330 mense gedeel wat kla oor die plaaslike Covid-19-voorkomings- en beheermaatreëls.

Die plaaslike polisie in die stad Qingtongxia, in die Ningxia-streek, het kort daarna ʼn anonieme wenk oor die foto ontvang wat beweer dat Li doelbewus die “beeld van die polisie beledig” het.

Die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur en Li na die polisiestasie ontbied.

Li is glo menigmaal ondervra. Nadat hy nege dae lank aangehou is, het hy erken dat hy die polisie beledig het.

Die omstrede foto. (Foto: CNN)

Sedert die voorval het talle mense Li se straf gekritiseer. Hulle voer aan dat die gebruik van ʼn internetgrappie beswaarlik genoeg rede is om dae lank deur die polisie aangehou te word.

Die polisie is egter oortuig dat sy optrede moeilikheid gestook het en dat nege dae lange aanhouding voldoende straf daarvoor is.

China handhaaf ʼn streng koronavirusbeleid wat daartoe gelei het dat owerhede noodmaatreëls moes instel in ʼn poging om die verspreiding van die virus te bekamp. Talle inwoners is egter vies oor dié maatreëls en het hulle tot sosiale media gewend om hul ontevredenheid uit te spreek.

CNN het voorheen berig dat twee inwoners ook aangehou is toe hulle probeer het om oor die heinings van hul ingeperkte gemeenskap te klim. Die buurt was glo ʼn tyd lank ingeperk om die verspreiding van die virus te bekamp.

Volgens die plaaslike polisie is dade van dié aard onwettig en word dit glad nie geduld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Kan nie onthou wie dit is nie, maar daar was tyd gelede, en miskien steeds, een van die kommentators wat in Sjina woon. Dit lyk na aanleiding van soortgelyke nuusberigte asof dit in Sjina net so erg gaan as in Suid Afrika, of selfs erger, met betrekking tot misbruik van mag deur geregsdienaars.

Pieter ·

Lyk vir my as jy die waarheid praat dan hou die staatsamptenare nie daar van nie maar as jy sleg is dan is jy sleg. Ons belastingbetalers weet vaar van ons praat.

Johan ·

Ja dit is nogals belaglik. Maar darm kan daai mense snags rustig slaap. Sonder vrees dat hulle beroof, verkrag en vermoor gaan word.

Niklaas ·

Beskuldigdes in Sjinese polisie selle , bieg altyd binne kort tydjies . Dit kan 2 weke duur maar die bekentenis volg gougou. Na bewering het die Sjinese polisie fantastiese oorredings vermoë daar onder in hul donker selle. Aangeklaagdes sing spoedig soos ‘n voëltjie. Hierdie ou het ook maar besluit na 9 dae om pragtig saam te werk en te erken.

Sandra ·

As die polisie in Suid Afrika aanstoot moet neem oor die publiek hulle beledig, sal die tronke almal vol wees as hulle die skuldiges moet arresteer. Altans voller as wat hulle nou is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.