Drie ruimtevaarders van China is op pad huis toe nadat hulle dié land se langste bemande ruimtevaart voltooi het.
Tang Hongbo, Nie Haisheng en Liu Boming het drie maande by die Tiangong-stasie deurgebring waar hulle onder meer wetenskaplike eksperimente uitgevoer het.
“Die bemande ruimtetuig Shenzhou-12 het suksesvol van die kernmodule van die ruimtestasie geskei,” het die staatsuitsaaier CCTV Donderdag gesê.
Die drie ruimtevaarders sal na verwagting Vrydag die aarde bereik.
Dié ruimtevaart was China se eerste in byna vyf jaar.
Maroela Media het vroeër berig die Chinese ruimteagentskap beplan nog 11 ruimtevaarte oor die volgende anderhalf jaar om die konstruksie van Tiangong in wentelbaan af te handel. Dit sluit in om sonkragpanele en twee laboratoriummodules by te voeg.
Die ruimtevaarders sal deurlopend die stelsels aan boord toets en in stand hou, asook wetenskaplike eksperimente uitvoer.
Die internasionale ruimtestasie, ʼn vennootskap tussen die VSA, Rusland, Kanada, Europa en Japan, sal na verwagting in 2024 uit diens gestel word, hoewel Nasa aangedui het die stasie kan moontlik tot ná 2028 in werking bly.
Tiangong sal na verwagting ʼn leeftyd van minstens 10 jaar hê.
#Shenzhou12 detached from #Tiangong space station and completed the radial rendezvous test at UTC 05:38 on Sept 16. Three astronauts Nie Haisheng, Liu Boming, and Tang Hongbo are about to return to earth on Sept 17 after their 90+days mission. https://t.co/EOh23EVKL5 pic.twitter.com/hr15pinClG
— CNSA Watcher (@CNSAWatcher) September 16, 2021