Chinese tennisster verskyn glo in publiek

Die Chinese tennisspeler Peng Shuai (Foto: AFP)

Die Chinese tennisspeler Peng Shuai het Sondag in amptelike foto’s van ʼn tennistoernooi in Beijing verskyn ná grootskaalse kommer oor haar welstand vroeër vandeesweek.

Die foto’s sowel as video’s slaag egter steeds nie daarin om almal gerus te stel oor Peng se welstand nie.

Die tennisster kan in foto’s van die Fila Kids Junior Tennis Challenger-eindronde by die Chinese Ope gesien word wat vroeër vandag op die Chinese sosialemediawebwerf Weibo geplaas is. AFP kon egter nog nie die egtheid daarvan verifieer nie.

Dit volg nadat die voormalige dubbelspelkampioen nog nie weer in die openbaar gesien is nie sedert sy ’n voormalige vise-premier daarvan beskuldig het dat hy haar gedwing het om seks te hê.

Peng verskyn egter nou ook in ’n video van Sondag se geleentheid waar sy in ’n stadion omring deur mense staan. Die video is deur Hu Xijin, redakteur van Global Times wat deur die Kommunistiese Party besit word, op Weibo geplaas.

’n Verslaggewer van dié publikasie het nog ’n video getwiet wat wys hoe Peng by dieselfde stadion handtekeninge aan kinders uitdeel voordat sy saam met hulle vir foto’s poseer.

Hu het ook Saterdag twee video’s van die tennisster geplaas. Daar kan in die eerste video gesien word hoe Peng, geklee in ’n jas, gebreide mus en gesigmasker, by ʼn restaurant instap. ’n Bord van die Beijing Yibin-gastehuis, ʼn bekende restaurant ʼn hanetreetjie van Tiananmen-plein wat deur die Sichuan-plaaslike regering besit word, is duidelik in die video sigbaar.

In die tweede video sit Peng sonder ’n gesigmasker by ʼn tafel terwyl sy met mense gesels en ’n maaltyd geniet.

Party meen egter die gesprek – wat oor tenniswedstryde gaan  – kom geforseer voor.

Steve Simon, voorsitter van die Wêreldvrouetennisvereniging (WTA), het in reaksie op die video’s in die restaurant gesê dit is steeds onduidelik of Peng vry en in staat is om besluite vir haarself te neem “sonder enige dwang of eksterne inmenging”.

“Hierdie video alleen is onvoldoende,” het Simon in ’n verklaring gesê.

’n Woordvoerder van die WTA het intussen aan AFP gesê Sondag se foto’s en video’s van die Beijing-toernooi stel die vereniging ook nie gerus nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariaan ·

Iets is nie pluis nie…dis dalk nie eers sy nie…die hele storie is verdag…ek sou se moenie ophou na haar soek nie…hier is iets snaaks aan die gang..AS dit sy was….? Ek glo nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.