Chirurg merk ingewande met sy voorletters

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn Dokter van Brittanje, wat erken het dat hy sy pasiënte se lewer met sy voorletters gemerk het, is vandeesweek amptelik van die land se mediese rol verwyder.

Simon Bramhall (57) het in 2017 skuld beken dat hy ʼn straalmasjien tydens twee operasies gebruik het om sy voorletters op die lewer van twee pasiënte aan te bring. Dié masjien word algemeen gebruik om bloeding op die lewer mee te stop of ʼn area uit te lig waaraan gewerk moet word, berig The Guardian.

Luidens dokumente van die mediese praktisynstribunaal het een van hierdie voorvalle in Februarie 2013 by die Queen Elizabeth-hospitaal in Birmingham plaasgevind, en die ander in Augustus dieselfde jaar.

Die tribunaal het Dinsdag, jare ná die voorvalle, Bramhall se optrede beskryf as “voortspruitend uit ʼn mate van professionele arrogansie” en gesê dit het die openbare vertroue in die mediese beroep ondermyn.

Bramhall is vir die eerste keer in 2013 by die betrokke hospitaal geskors nadat ʼn ander chirurg sy voorletters tydens ʼn opvolgoperasie op een van sy pasiënte se organe opgemerk het. ʼn Foto van die 4 cm-grootte brandmerk is glo met ʼn selfoon afgeneem. Bramhall het in 2014 by die hospitaal bedank terwyl owerhede die saak ondersoek het.

Die brandmerke het later daartoe gelei dat Bramhall in 2017 skuldig bevind is aan aanranding. Hy is met $13 619 (nou meer as R210 000) beboet en tot gemeenskapsdiens gevonnis.

Hy het skuld beken, en gesê hy het die organe gebrandmerk om spanning in die operasieteater te verlig, ná ʼn uiters uitdagende orgaanoorplanting.

Die tribunaal het sy optrede in Desember 2020 hersien en hom vir minstens vyf maande uit die mediese praktyk geskors. Die skorsing is egter in Junie verlede jaar opgehef, nadat daar “geen waarneembare risiko van die herhaling van sy optredes” was nie.

ʼn Regter in die hooggeregshof het egter dié besluit omgekeer en Bramhall se saak weer na die tribunaal terugverwys, waar daar eindelik besluit is om hom van die mediese rol te verwyder.

Die tribunaal het bevind dat ʼn skorsingsbevel onvoldoende sou wees om die breër openbare belang te beskerm. Hy meen dat die besluit om Bramhall heeltemal van die rol te skrap ʼn “toepaslike en proporsionele optrede” sal wees.

“Die fisieke aanranding van twee kwesbare pasiënte terwyl hulle bewusteloos in ʼn kliniese omgewing was, ondermyn pasiënte en die publiek se vertroue in die mediese beroep en dompel die hele beroep in oneer.”

Hoewel nie een van die twee pasiënte blywende fisieke skade opgedoen het weens Bramhall se handtekening nie, het een van die slagoffers ernstige en blywende sielkundige skade opgedoen as gevolg daarvan.

Die tribunaal het ʼn onmiddellike skorsingsbevel aan Bramhall uitgereik, wat ʼn appèltydperk van 28 dae insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anel ·

Nou wat se sielkundige letsels kan iemand nou van so iets oorhou? Belaglik! Enigiets om geld uit ‘n situasie te kry.

Pieter ·

Neewat niemand skryf of brandmerk my nie, ek is nie hulle besitting nie.

Stephanus ·

Jy sien dit nie, hoor dit nie, voel dit nie en ruik dit nie. Hoekom dan nadelige sielkundige probleme daaroor kry?

Mel84 ·

Ek verstaan vir sommige mense mag dit dalk as skending van privaatheid voel. Maar met my donkerder sin van humor dink ek ek sal lag en ‘n virtuale ‘high five’ vir die dokter stuur as ek onder die mes was. Dis nogal kreatief. Dink dis ‘n persoonlike ding hoe so iets jou sal laat voel.

Marius ·

Dalk die hoeders in wees ja, maar blywende sielkundige skade ? Dis bog.

Swerwer ·

Hoe op dees aarde kan ‘n mens ernstige en blywende sielkundige skade opdoen as daar geen blywende fisieke skade opgedoen was nie. Belaglik. Iets klink nie vars nie.

Plaaskind ·

Ek sal ook nie iemand anders se voorletters of merke op my lyf of organe wil hê nie, dis my lyf en lewe.

Suzette ·

Goed so – toppunt van vermetelheid en verwaandheid – wie dink hy is hy?

Frank John ·

Nou dink ek so, as jy nie die dr. se handtekening op jou lyf hê nie moet jy glad nie gaan vir enige operasies nie. Elke Dr.het sy manier van sny en kan deur ander Dr.’s erken word wie laas daar gesny het want hulle ken sy soort hande werk wat dan mos eintlik ‘n “handtekening” is. ‘n Plastiese sny dr. se werk wat kosmeties is kan van een na fie ander gesien word. Die tipe werk wat ju agter los is jou teken. En ek praat van ondervinding. Een dr.is soos ‘n padaslagter en die ander ‘n kunstenaar. Kyk maar na somige plastiek snykunde wat veral in Hollywood aan gaan.

Deon ·

Sal jy toelaat dat hy aspris sy voorletters op jou maak? Om iemand se handewerk te herken is niendieselfde as om sy naam daar gekryf te sien nie

Ansie ·

Ag nee, asseblief. Ek kan verstaan dat die simpel chirurg geskors is, want wat hy gedoen het was oneties – maar dat die pasiënt erge en blywende sielkundige skade as gevolg daarvan opgedoen het, is totaal belaglik.

piet ·

Arrogant en oneties. Definitief nie ‘n “fit and proper” persoon om in die mediese beroep te wees nie. Hy moes darem so iets aan my gedoen het. Ek merk hom met voorletters op ‘n plek waar hy permanent herinner word dat hy gemerk is.

Leeuwyfie ·

Dink net hoeveel daai lewer gaan werd wees na die dokter se afsterwe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.