Chris Rock, akademie reageer ná Oscars-klap

Chris Rock op die verhoog tydens die 94ste jaarlikse Oscars-geleentheid in die Dolby-teater in Hollywood, Kalifornië, op 27 Maart 2022. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die komediant Chris Rock het sy eerste openbare verskyning gemaak sedert Will Smith hom Sondagaand tydens die Oscar-toekenningseremonie op die verhoog geklap het.

Hy het tydens die laaste been van sy Amerikaanse toer in Boston aan aanhangers gesê hy “verwerk nog die gebeure”.

Rock, wat met ʼn staande toejuiging deur aanhangers begroet is, het ook berigte deur die Amerikaanse media ontken wat aanvoer dat hy sedert die voorval met Smith gepraat het.

Moontlike skorsing deur die akademie staar Smith (53) in die gesig nadat hy Rock geklap het oor ʼn grap wat dié oor sy vrou, Jada Pinkett Smith, gemaak het.

Rock was op die verhoog om die beeldjie vir beste dokumentêr uit te deel. Hy het na Pinkett Smith, wat ʼn kaalkop het weens haar stryd met alopesie (ʼn immuunsiekte wat haarverlies tot gevolg het), gewys en ʼn grap gemaak oor die fliek G.I. Jane.

Hoewel Smith eers gelag het, het Pinkett Smith se gesig boekdele gespreek en Smith het die verhoog betree om Rock aan te vat.

Smith het hom ʼn harde klap deur die gesig gegee en weggestap, waarna hy weer vanuit sy sitplek uit die gehoor vir Rock geskree het: “Hou my vrou se naam uit jou f****n mond!”

“Hoe was jul naweek?” het Rock grappenderwys aan die gehoor gevra tydens sy vertoning by die Wilbur-teater in Boston, voordat hy gesê het hy beplan nie om nou al die voorval in diepte te bespreek nie.

Die 57-jarige akteur en komediant is tans in sy Ego Death-toer in die VSA te sien en het aan aanhangers gesê hy het “die vertoning geskryf voordat al dié nonsens plaasgevind het”, maar het belowe om die voorval in die toekoms te bespreek.

Chris Rock en Will Smith op die verhoog tydens die 94ste jaarlikse Oscars-geleentheid in die Dolby-teater in Hollywood, Kalifornië, op 27 Maart 2022. Smith het vir Rock ‘n oorveeg gegee nadat dié ‘n grap oor sy vrou gemaak het. (Foto: Neilson Barnard/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

“Ek verwerk nog wat gebeur het, so ek sal in ʼn stadium daaroor moet praat. Dit sal ernstig en snaaks wees, maar vir eers gaan ek ʼn paar grappe vertel.”

Hy het ook bewerings dat hy en Smith ná afloop van die toekenningsgeleentheid die lug gesuiwer het, ontken.

Rock se kommentaar volg nadat die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (Ampas) Woensdag gesê het Smith het geweier om die Oscar-toekenningseremonie te verlaat nadat hy Rock ten aanskoue van miljoene mense geklap het.

Die akademie, wat dié gesogte goue beeldjies toeken, het volgens berigte met dissiplinêre optrede teen die superster, wat in flieks soos Ali, The pursuit of happyness en Bad boys gespeel het, begin.

Hy het Sondagaand sy eerste Oscar-toekenning vir sy rol as Richard Williams, pa van die tennissterre Venus en Serena, in die fliek King Richard gewen.

“Ons wil dit duidelik stel dat mnr. Smith gevra is om die seremonie te verlaat en geweier het. Ons erken ook dat ons die situasie anders moes hanteer,” lui ʼn verklaring deur die akademie.

Die akademie gaan glo ʼn stemmery hou oor die stappe wat teen Smith gedoen moet word te midde van die aanranding wat wêreldwyd uitgesaai is.

“Die raad van goewerneurs het vandag dissiplinêre stappe van stapel gestuur teen Will Smith vir die oortreding van die akademie se gedragskode, waaronder onvanpaste fisieke kontak, dreigende gedrag en die bedreiging van die akademie se integriteit.”

Will Smith en sy vrou, Jada Pinkett Smith. (Foto: Facebook)

Smith word 15 dae kennis gegee van ʼn stemmery oor sy oortredings en kan vooraf aangehoor word deur middel van ʼn geskrewe reaksie. By die volgende raadsvergadering op 18 April sal die akademie dissiplinêre stappe doen, wat skorsing tot gevolg kan hê.

Die groep is onder hewige druk om op ʼn vanpaste wyse te reageer op die voorval, wat die dekking van die glansryke toekenningsgeleentheid oorheers het en die kollig weggelei het van verskeie noemenswaardige eerstes vir die Oscars – waaronder die beeldjie wat vir die eerste keer vir beste rolprent aan ʼn oorwegend dowe rolverdeling vir CODA toegeken is.

Skorsing uit die eksklusiewe klub is egter raar, maar nie ongehoord nie: Harvey Weinstein is in 2017 die trekpas gegee nadat bewerings van dekades van seksuele aanranding deur dié voormalige Hollywood-vervaardiger aan die lig gekom het.

Die regisseur Roman Polanski is in 2019 geskors na jarelange omstredenheid oor sy skuldigbevinding in 1978 aan die verkragting van ʼn 13-jarige meisie.

Nie een van die twee mans se Oscars is teruggeneem nie.

Bykomende bronne: AFP, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mira ·

Miskien is dit waar wat jy se Casper,maar dan moes hy nie saamgelag het nie.Hoe kan jy saamlag en dan opstaan as jy jou vrou se gesig sien?uiters SWAK gedrag

Cobus ·

Klug!! Probeer hulle kyker getalle ‘n “boost” gee. Akteurs wat toneel speel, wil jy nou meer?

Ansie ·

Dan moet Rock ook gedissiplineer word. Wat hy gedoen het was in uiters swak smaak en onbeskof. Dit was miskien nie die regte manier om die saak te besleg nie, maar dis ook nie reg om met siekte te spot nie, veral nie wanneer dit ‘n ander persoon te na kom nie.

Mira ·

Ek hou van albei akteurs maar ek het nerens gehoor Jada se siekte is daar genoem nie deur Rock nie

Jr ·

Who cares, hulle weet nie in elk geval wat is n ordentlike harde dag se werk en dan word hulle miljoene betaal. Kan nie omgee wat hulle doen

Hennie ·

Hou nie van een van die twee narre nie, maar Smith het sy naam met n plank geslaan. Swak ou beesblaas

Josua ·

Hennie, wat sal jy doen as n vriend van jou so voor almal vertel terwyl jou vrou langs jou sit hoe mooi jou vrou se borste is of dat hy graag saam haar wil slaap gaan jy dit aanvaar want daar is geen verskoning nie of dit n grap is of nie dit bly in swak smaak. Die hele ding is gestage almal weet dit dit beklemtoon net die “best actor” figuur en hulle kyk hoe die mense hierop gaan reageer en ek dink hulle slaag uitstekend in doel.

minniemuis ·

Josua jy is darem oordrewe – wat jy noem is n ander storie –

Wayne ·

Nee wat . Hy klap in elk geval soos n dogtertjie. Rock sou nie staande gebly het na n ordentlike snotklap nie !

Piet ·

Waarheen gaan die wereld? so ek iemand “slegse en boelie en baie onsensitief” wees onder die vaandel van ‘n grappie, en Geen stappe word teen dit geneem nie. Altwee het verkeerd opgetree, maar niks sou gebeur het as Rock nie so onsensitief was nie. Dankie tog hulle het dieselfde velkleur, hoe sou die storie nie intplof het nie. Dit daar gelaat…..

ONTPS ·

Wie weet of Rock geweet het van Jada se siekte? Hy het gespot met die fkiek G.I. Jane, nie met Jada nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.