Christchurch-terreur: Skieter gevonnis  

Brenton Harrison Tarrant. (Foto: John Kirk-Anderson/Pool Photo via AP)

Brenton Harrison Tarrant is tot lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis vir die skietvoorvalle by twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, in 2019.

Tarrant het op 15 Maart 2019 tydens ’n gebedsbyeenkoms by twee moskees in Christchurch op aanbidders losgebrand en 51 mense is dood.

Regter Cameron Mander het die strafste moontlike vonnis vir die 29-jarige Australiër opgelê en dit is die eerste keer dat dié vonnis in Nieu-Seeland opgelê word.

Mander het gesê Tarrant se misdade was so boos dat lewenslank in die tronk nie eers kan begin om daarvoor op te maak nie.

Brenton Harrison Tarrant. (Foto: John Kirk-Anderson/Pool Photo via AP)

“Jou optrede was onmenslik. Jy het ʼn driejarige doelbewus doodgemaak terwyl hy aan sy pa se been vasgeklou het.”

Tydens die vier dae lange vonnisverhoor het 90 oorlewendes en familielede van die oorlewendes getuig oor die trauma wat hulle steeds ervaar. Van die getuies het op Tarrant geskree of vir hom tekens gewys. Hy is ʼn monster en ʼn lafaard genoem. Van die getuies het saggies met hom gepraat en gesê dat hulle hom vergewe het.

Tarrant het nie tydens die verhoor gepraat nie en het tydens vonnisoplegging byna geen emosie gewys nie. Hy het in Maart vanjaar skuldig gepleit op 51 aanklagte van moord, 40 aanklagte van poging tot moord en een aanklag van terrorisme.

(Foto: AP Photo/Vincent Yu, File)

Daar is tydens die verhoor aangevoer dat Tarrant in 2017 na Nieu-Seeland verhuis het waarna hy ’n arsenaal wapens asook 7 000 patrone begin koop het. Hy het twee maande voor die aanvalle ’n hommeltuig oor die moskees laat vlieg om lugfoto’s van die onderskeie terreine, geboue en die moskees se in- en uitgange te neem.

Tarrant het beplan om op die moskees toe te slaan wanneer die maksimum aantal aanbidders teenwoordig sou wees. Altesaam 190 aanbidders was die betrokke dag van die aanvalle teenwoordig.

Die Maart 2019-aanvalle op die Al Noor- en Linwood-moskee het Nieu-Seeland geruk en tot nuwe wette gelei wat die dodelikste soorte semi-outomatiese wapens verbied. Daar is ook geëis dat protokolle op sosiale media verander nadat Tarrant die aanvalle regstreeks op sy Facebook-blad uitgesaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Persheks Adri ·

Steeds geen emosie nie! Mense is siek in hulle koppe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.