Christchurch-terreur: Skieter swyg in vonnisverhoor

Brenton Harrison Tarrant Woensdag in die hof. (Foto: John Kirk-Anderson/Pool Photo via AP)

Byna 90 oorlewendes en familielede van slagoffers het die afgelope drie dae in die hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland, getuig oor die pyn en lyding wat hulle daagliks moet deurmaak sedert Brenton Harrison Tarrant op twee moskees in dié stad in 2019 toegeslaan het.

Tarrant (29) het egter nog nie ’n woord oor dié aanvalle gerep nie en aangedui dat hy nié in die hof sal getuig voordat hy gevonnis is nie.

Tarrant verteenwoordig homself gedurende sy vonnisverhoor en sal na verwagting Donderdag gevonnis word. Dít nadat hy in Maart vanjaar skuldig gepleit het op 51 aanklagte van moord, 40 aanklagte van poging tot moord en een aanklag van terrorisme – die eerste veroordeling van terrorisme in die geskiedenis van Nieu-Seeland.

Een van die getuies vandeesweek in die hof. (Foto: John Kirk-Anderson/Pool Photo via AP)

Maroela Media het vroeër berig 51 mense is dood toe Tarrant op 15 Maart 2019 op aanbidders gedurende ’n gebedsbyeenkoms by die Masjid Al Noor- en Linwood Masjid-moskee in Christchurch losgebrand het.

Tarrant, ’n Australiër, kan nou die eerste mens in Nieu-Seeland word wat tot lewenslange gevangenisstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis word. Verskeie oorlewendes en familielede van slagoffers het die afgelope paar dae gevra dat Tarrant dié straf opgelê word.

Van die getuies vandeesweek in die hof. (Foto: John Kirk-Anderson/Pool Photo via AP)

Tarrant is vanuit die getuiebank as ’n monster, ’n lafaard en ’n rot bestempel terwyl sommige getuies aangedui het dat hulle hom vergewe.

“Jou gruweldade en haat het nie afgeloop soos jy verwag het nie. Dit het eerder ons Christchurch-gemeenskap verenig, ons geloof versterk, die eer van ons families verhoog en ons vreedsame nasie bymekaargebring,” het die pa van Tarrant se jongste slagoffer, die driejarige Mucaad Ibrahim, getuig.

Tarrant het min emosie gedurende sy vonnisverhoor getoon. Hy het by geleentheid wel sy kop geknik of sy mond bedek terwyl hy gelag het vir grappies wat dikwels tot sy nadeel gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Persheks Adri ·

Sinnelose moorde en hy sê nie ‘n woord nie! Hoop regtig hy kry lewenslank en vrot in die tronk. Mense is siek in hulle koppe ek kry die families regtig jammer

JohanR ·

The last execution in New Zealand: Walter Bolton, 18 February 1957….dis nou jammer! Weer eens ‘n ou wat free board and lodging sal kry vir die res van sy miserabele lewe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.