Christchurch-verdagte vir sielkundige waarneming verwys

Kerse is destyds aangesteek ter herinnering aan die slagoffers van die skietery by die Al Noor-moskee in Christchurch, Nieu-Seeland. (Foto: Vincent Yu, AP)

Die man wat van die skietvoorvalle by twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, beskuldig word, is vir sielkundige waarneming verwys.

Brenton Harrison Tarrant, die vermeende skieter, sal deur sielkundiges waargeneem word wat sal besluit of hy wel geskik is vir ʼn verhoor, het regter Cameron Mander Vrydag (Nieu-Seelandse tyd) in die Christchurch-hooggeregshof gesê.

Die internasionale mediahuis BBC berig Tarrant het via oudiovisuele uitsending vanaf ʼn gevangenissentrum by die verhoor ingeskakel waar hy teregstaan op 50 aanklagte van moord en 39 van poging tot moord.

Tarrant is tans in aanhouding by ʼn maksimumsekuriteitsgevangenis in Paremoremo, Auckland, sedert sy eerste hofverskyning op 16 Maart – die dag nadat hy na bewering op die Masjid Al Noor- en Linwood Masjid-moskees in die stad losgebrand het.

Regter Mander het beveel dat twee assesserings uitgevoer sal word om die toestand van die verdagte se geestesgesondheid te bepaal.

Volgens die BBC het Tarrant aandagtig na die verhoorverrigtinge geluister, maar geen kommentaar gelewer nie. Die verdagte kon die regter en prokureurs in die hof sien en die verrigtinge aanhoor, maar die kamera was wel weggedraai van die hof se stampvol openbare galery.

Talle famililede van die oorledenes wat in die skietvoorvalle by die moskees omgekom het, het Vrydag se verhoor bygewoon.

Die BBC berig Tofazzal Alam, wat die aanval op die Linwood-moskee oorleef het, het met verslaggewers buite die hof gepraat. “Ek het 50 vriende verloor wat ek elke Vrydag in die moskee gesien het. Tydens die skietery kon ek [Tarrant] nie sien nie. Ek wil sien hoe hy voel nadat hy 50 mense doodgemaak het. Daarom is ek vandag hier,” het Alam gesê.

Die verdagte het die skietvoorvalle regstreeks op sosiale media uitgesaai waarna Facebook Tarrant se Facebookblad verwyder het nadat hulle deur die polisie gewaarsku is.

Mark Zuckerberg, die uitvoerende hoof van Facebook, het onlangs sy stilte oor dié uitsending verbreek gedurende ʼn onderhoud met die Australiese nuuskanaal ABC News nadat die sosialemediaplatform vroeër vandeesweek gekritiseer is omdat hulle nie nuwe veiligheidsmaatreëls ingestel het wat ʼn herhaling van dié regstreekse uitsending sou voorkom nie.

Zuckerberg het gemengde gevoelens gehad oor regstreekse uitsendings op sosiale media, indien dit in sekere gevalle verwelkom word en ander gevalle, soos die Christchurch-terreuraanval, nie.

“Dit was ʼn verskriklike gebeurtenis,” het Zuckerberg wel gesê.

Sheryl Sandberg, operasionele hoof van Facebook, het op haar beurt op 30 Maart in ʼn ope brief gesê Facebook verken die idee om beperkings rakende regstreekse uitsendings in te stel vir gebruikers wat dié sosiale netwerk se “gemeenskapstandaarde” oortree.

Die New Zealand Herald berig die parlement in Australië het ook ná afloop van verlede maand se gebeure ʼn nuwe wet ingestel waarin sosialemediaplatforms beboet sal word en die uitvoerende beamptes van dié platforms drie jaar tronkstraf opgelê sal word indien hulle nie vinnig optree teenoor gewelddadige uitsendings nie.

“Daar is platforms soos YouTube, Twitter en Facebook wat nie hul verantwoordelikheid aanvaar om geweldsmateriaal ernstig op te neem nie,” het Christian Porter, die Australiese direkteur-generaal, gesê.

Die verhoor is uitgestel tot 14 Junie waartydens die verdagte na verwagting sal pleit op die aanklagte teen hom. Tarrant bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wouter ·

Daar moet fout met die vent wees want hy vat n ewigheid om magasyne te ruil.

Anoniem ·

Hy makeer niks nie, als was mooi beplan met die einste kop wat nou vir waarneming moet gaan JULLE mors net TYD
– begin maar met die HOFSAAK want al wat met HOM fout is, is dat HY afgedwaal het – hy KORT VIR GOD in sy lewe ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.