Christen-egpaar spring doodstraf vry

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Pakistanse hof het Donderdag beslis dat ʼn Christen-egpaar wat ter dood veroordeel is vir godslastering vrygelaat moet word. Dit volg weke nadat die Europese parlement dié land oor die saak gekritiseer het.

Shafqat Emmanuel en Shagufta Kausar, albei ongeletterd, is in 2014 tronk toe gestuur nadat hulle glo ʼn boodskap gestuur het waarin hulle die profeet Mohammed beledig het.

Die egpaar is skuldig bevind nadat ʼn winkelier, wat beweer dat hy die boodskap gesien het, hulle by owerhede gaan aankla het.

Emmanuel en Kausar se prokureur, Saif ul Malook, het Donderdag bevestig dat die paartjie na verwagting volgende week vrygelaat sal word.

“Ek is baie bly dat ek die egpaar, wat van die hulpeloosste mense in ons samelewing is, kon help vryspreek,” het Malook gesê.

Godslastering in Pakistan is ʼn ernstige oortreding. Diegene wat die Islam-geloof beledig, kan die doodstraf opgelê word en selfs ongegronde aantygings kan veroorsaak dat die gemeenskap eie reg gebruik. Menseregte-aktiviste sê dat onskuldige mense dikwels beskuldig word om persoonlike geskille te besleg.

Die egpaar kom van die stad Gojra, wes van Lahore, wat ʼn geskiedenis van geweld teen minderheidsgroepe het.

In 2009 het ʼn skare ʼn Christen-woonbuurt aangeval en in die proses 77 huise afgebrand en minstens sewe mense vermoor. Dít nadat gerugte die ronde gedoen het dat ʼn Koran geskend is.

Die Europese parlement het in April Pakistan veroordeel omdat hulle nie godsdiensminderheidsgroepe, waaronder Ahmadi’s, Sjiiete, Hindoes, Christene en Sikhs, beskerm nie. Daar is na bewering talle mense van dié geloofsrigtings wat tans in die tronk is op aanklag van godslastering.

“Die situasie in Pakistan het verlede jaar aanhou agteruitgaan omdat die regering stelselmatig godslasteringswette toegepas het. Hulle het ook versuim om godsdienstige minderheidsgroepe teen aanvalle te beskerm,” lui ʼn verklaring van die parlement.

“Emmanuel en Kausar se saak was veral kommerwekkend,” het die parlement bygevoeg. “Daarom is die doodsvonnis onmiddellik en onvoorwaardelik omgekeer. Owerhede moet nou onmiddellik voldoende sekuriteit aan Emmanuel en Kausar, asook hul families en prokureur bied.”

Die parlement het ook gevra dat Pakistan se GSP-plus-status hersien moet word. Hierdie status skrap invoerbelasting van produkte wat na die Europese Unie uit ontwikkelende lande kom in ruil vir ooreenkomste oor kwessies soos mense- en arbeidsregte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Liewe Hemel!

Leeuwyfie

Die oes is groot, die arbeiders min. Ons het baie werk om te doen. Ek is so dankbaar dat hierdie mense vrygespreek is. Ek wonder hoeveel oes het hulle al ingesamel in die tronk. Ek het net gister gelees van Paulus en Silas in die tronk, en nadat hulle geslaan is en in die tronk gesit is, het hulle begin om die Here te prys. (Op ‘n baie slegte tyd toe sing hulle, nogals iets om te onthou wanneer dinge sleg gaan) ‘n Aardbewing en boeie wat afval later is die tronkbewaarder en sy gesin gered. Al daai om 1… Lees meer »

Edward

Waarheen het die twee ongeletterde Christene die laster boodskap gestuur? Klink vir my na laster teen Mohamned en nie teen Allah nie.

Marius

Wat ek nie verstaan is dat die wêreld so tekere gegaan het oor apartheid, maar die mense is tog die reg gegee om te lewe en te ontwikkel in die onderskeie tuislande. Maar daar word mense tot vandag toe tot die dood vervolg oor hul geloof en die reaksie van die wêreld is maar flou….

pieter

Wat my verstom is dat ons as christen nasie nog krieket teen ulle speel of as toeskouers dit ondersteun. Ek kyk glad nie krieket teen hulle nie.Onskuldige christene word vermoor en vervolg maar die die meerderheid ”turn a blind eye” soos die engelse se