Christen-egpaar spring doodstraf vry

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Pakistanse hof het Donderdag beslis dat ʼn Christen-egpaar wat ter dood veroordeel is vir godslastering vrygelaat moet word. Dit volg weke nadat die Europese parlement dié land oor die saak gekritiseer het.

Shafqat Emmanuel en Shagufta Kausar, albei ongeletterd, is in 2014 tronk toe gestuur nadat hulle glo ʼn boodskap gestuur het waarin hulle die profeet Mohammed beledig het.

Die egpaar is skuldig bevind nadat ʼn winkelier, wat beweer dat hy die boodskap gesien het, hulle by owerhede gaan aankla het.

Emmanuel en Kausar se prokureur, Saif ul Malook, het Donderdag bevestig dat die paartjie na verwagting volgende week vrygelaat sal word.

“Ek is baie bly dat ek die egpaar, wat van die hulpeloosste mense in ons samelewing is, kon help vryspreek,” het Malook gesê.

Godslastering in Pakistan is ʼn ernstige oortreding. Diegene wat die Islam-geloof beledig, kan die doodstraf opgelê word en selfs ongegronde aantygings kan veroorsaak dat die gemeenskap eie reg gebruik. Menseregte-aktiviste sê dat onskuldige mense dikwels beskuldig word om persoonlike geskille te besleg.

Die egpaar kom van die stad Gojra, wes van Lahore, wat ʼn geskiedenis van geweld teen minderheidsgroepe het.

In 2009 het ʼn skare ʼn Christen-woonbuurt aangeval en in die proses 77 huise afgebrand en minstens sewe mense vermoor. Dít nadat gerugte die ronde gedoen het dat ʼn Koran geskend is.

Die Europese parlement het in April Pakistan veroordeel omdat hulle nie godsdiensminderheidsgroepe, waaronder Ahmadi’s, Sjiiete, Hindoes, Christene en Sikhs, beskerm nie. Daar is na bewering talle mense van dié geloofsrigtings wat tans in die tronk is op aanklag van godslastering.

“Die situasie in Pakistan het verlede jaar aanhou agteruitgaan omdat die regering stelselmatig godslasteringswette toegepas het. Hulle het ook versuim om godsdienstige minderheidsgroepe teen aanvalle te beskerm,” lui ʼn verklaring van die parlement.

“Emmanuel en Kausar se saak was veral kommerwekkend,” het die parlement bygevoeg. “Daarom is die doodsvonnis onmiddellik en onvoorwaardelik omgekeer. Owerhede moet nou onmiddellik voldoende sekuriteit aan Emmanuel en Kausar, asook hul families en prokureur bied.”

Die parlement het ook gevra dat Pakistan se GSP-plus-status hersien moet word. Hierdie status skrap invoerbelasting van produkte wat na die Europese Unie uit ontwikkelende lande kom in ruil vir ooreenkomste oor kwessies soos mense- en arbeidsregte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Juis daarom moet ons onophoudelik bid vir Christen gelowiges wat vir hul geloof vervolg word.

Leeuwyfie ·

Die oes is groot, die arbeiders min. Ons het baie werk om te doen. Ek is so dankbaar dat hierdie mense vrygespreek is. Ek wonder hoeveel oes het hulle al ingesamel in die tronk. Ek het net gister gelees van Paulus en Silas in die tronk, en nadat hulle geslaan is en in die tronk gesit is, het hulle begin om die Here te prys. (Op ‘n baie slegte tyd toe sing hulle, nogals iets om te onthou wanneer dinge sleg gaan) ‘n Aardbewing en boeie wat afval later is die tronkbewaarder en sy gesin gered. Al daai om 1 gesin te red. Dit hou nie op nie. Ons het nodig om in te spring. Prys die Heer vir hierdie 2 mense se gehoorsaamheid.

Edward ·

Waarheen het die twee ongeletterde Christene die laster boodskap gestuur? Klink vir my na laster teen Mohamned en nie teen Allah nie.

VaalDonkie ·

Dis so blerrie maklik om ‘n valse klag teen iemand te maak. En sonder ordentlike ondersoek, is dit ‘n rowwe lewe vir Christene in Pakistan.

Marius ·

Wat ek nie verstaan is dat die wêreld so tekere gegaan het oor apartheid, maar die mense is tog die reg gegee om te lewe en te ontwikkel in die onderskeie tuislande. Maar daar word mense tot vandag toe tot die dood vervolg oor hul geloof en die reaksie van die wêreld is maar flou….

pieter ·

Wat my verstom is dat ons as christen nasie nog krieket teen ulle speel of as toeskouers dit ondersteun. Ek kyk glad nie krieket teen hulle nie.Onskuldige christene word vermoor en vervolg maar die die meerderheid ”turn a blind eye” soos die engelse se

Rayman ·

Hoeveel van die mense wat hulself Christene noem het so strerk geloof soos die moslems, wat doen jy as Christen as jy bv. ñ fliek kyk en hulle praat Gods lastering daar binne, hou jy aan kyk of verander jy die kanaal of staan op uit die teater, ek vra maar net. Die mense is baie vinnig om hul self christene te noem maar hulle leef nie volgens die woord van God nie, daar word mense dood gemaak as jy hul gode beledig wat doen ons, ons ondersteen Holywood om nog Gods lastering flieks te maak, en nou begin die ding ook kop uitsteek in die Suid Afrikaanse flieks en series

Samuel ·

Suid-Afrika het baie nominale Christene, maar min weergeborenes. Ons is ook nie ‘n Christelike land nie. Geensins. Ons eie filmbedryf vervaardig deesdae godslasterlike “speelfilms” soos kykNET dit noem. Wie doen iets daaromtrent? Nie eens die kerk nie!!

Samuel ·

Ek stem volmondig saam dat ons sg Christene nie die moed het om op te staan teen Hollywood of kykNET met hulle godslasterlike films nie. Die Islam het moed, reg of verkeerd, om op te tree teen mense wat hulle geloof te nakom.

Samuel ·

Die meeste Suid-Afrikaanse Christene is ruggraatloos. Pfft.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.