Cleo se ontvoerder het glo ‘obsessie met poppe’

Dié foto – glo van Terence Darrel Kelly – is op verskeie internasionale nuuswebtuistes gepubliseer. (Foto: The Daily Mail Australia)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy Cleo Smith (4) op 16 Oktober uit ’n tent by die Blowholes-kampterrein ontvoer het, het glo ’n obsessie met Bratz-poppe en ’n hele kamer vol kinderspeelgoed in sy huis. Sommige van dié poppe is nooit eers uit die boks waarin hulle verkoop is, gehaal nie.

ABC News berig Terence Darrel Kelly het Donderdag in die Carnarvon-landdroshof in Wes-Australië verskyn, ’n dag nadat Cleo deur polisie uit sy staatsgesubsidieerde huis gered is.

Hy word onder meer van “kinderdiefstal” aangekla en sal in aanhouding bly tot hy op 6 Desember weer in die hof verskyn.

Kelly is kort voor Cleo se redding in ʼn straat naby dié huis in hegtenis geneem. Formele klagtes kon egter eers later gelê word aangesien Kelly ná sy inhegtenisneming hospitaalbehandeling vir “onbekende beserings” moes ontvang.

Hy is nie Donderdag versoek om te pleit nie en het ook nie om borgtog aansoek gedoen nie.

“Kelly was kaalvoet en het ʼn swart hemp aangehad. Sy krulhare het losgehang,” berig ABC, wat ten tyde van sy verskyning in die hof teenwoordig was.

Kelly het glo nie veel emosie gewys nie, maar was na bewering hoogs geïrriteerd met die verslaggewers.

“Ek gaan julle kry!” het hy dié joernaliste glo toegesnou.

Obsessie met poppe

Verskeie foto’s van Kelly, sy reusepopversameling en menige sosialemediaprofiele is intussen deur verskeie geloofwaardige nuuswebtuistes gepubliseer.

Die nuusblad Daily Mail Australia berig Kelly se onderskeie Facebook-profiele skep ʼn verontrustende prentjie.

Dit is glo hoe een van die kamers in Terence Darrel Kelly se huis lyk. (Foto: Daily Mail Australia)

Sy obsessie met die Bratz-modepoppe is op sy profiel, “Bratz DeLuca”, te sien. Foto’s op die blad sluit ʼn kamer vol poppe en dogtertjiespeelgoed in, asook foto’s van Kelly met sy poppe – tuis en in sy kar.

In een van die “selfies” saam met sy poppe verwys Kelly na homself as “mama’s little brat” (mamma se klein bedorwe brokkie). By ander foto’s skryf Kelly daar is niks lekkerder as om saam met sy Bratz-poppe by die huis te ontspan nie.

Daily Mail Australia berig Kelly kan ook met ander profiele verbind word waar hy onder meer aanvoer dat hy die pa van verskeie kinders is, hoewel sy bure beweer hy is kinderloos.

Een van dié profiele “volg” glo ook die profiel van Ellie Smith, Cleo se ma. Sy het dié profiel gebruik om bewusmaking oor haar kind se verdwyning te skep en vir inligting te pleit. Dit is nie seker wanneer hy haar begin volg het nie.

Cleo Smith (4) is Woensdag ná 18 dae deur polisie in Wes-Australië gevind. (Foto: Facebook / Western Australia Police)

Luidens die berig weier die polisie volstrek om op die gepubliseerde foto’s en bewerings kommentaar te lewer.

Speursersant Cameron Blaine het wel Woensdag tydens ʼn nuuskonferensie gesê Cleo was in ʼn kamer in dié huis toegesluit en het met speelgoed gespeel toe vier polisiebeamptes omstreeks 01:00 op haar afgekom het.

Blaine het nie verder hieroor uitgewei nie “aangesien die ondersoek nog voortduur”.

Verkeerde persoon

ʼn Ander man is aanvanklik deur ʼn Australiese media-instansie, 7 News, verkeerdelik as Terence Darrel Kelly geïdentifiseer.

Die man, eintlik Terrance Flowers, wat op sosiale media as Terry Kelly bekendstaan, het sedertdien doodsdreigemente ontvang en die polisie se beskerming aangevra.

7 News het intussen ʼn verskoning op hul blad gepubliseer en Flowers se foto’s verwyder.

Maroela Media het vroeër berig Cleo was 18 dae weg nadat sy en haar slaapsak uit die tent verdwyn het wat sy met haar ouers, Ellie Smith en Jake Gliddon, en babasussie, Isla Gliddon, gedeel het.

Die gesin was besig om te kamp.

Sy is intussen weer veilig met haar ouers hereniging en is Woensdag na ʼn kort verblyf in die hospitaal ontslaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JM ·

Klink asof hierdie ontvoerder versteurd is; sulke mense is potensieel gevaarlik.

Annelize ·

Stem saam, sleg versteurd as jy my vra. So persoon is onvoorspelbaar, goed dat hy liewer in aanhouding bly.

Willem ·

So mal soos tien hase. Geen varkie op hok nie. 52 cards short of a deck. Geen ligte gaan aan nie. Stapelgek. Ek kan aangaan en aangaan maar woorde ontbreek om hom te beskryf.

Hoekom ·

Die malhuise is leeg, want “rights”. Nou gebeur hierdie dinge…

AmY ·

Hierdie storie kon ‘n lelike einde gehad het.
Dankie tog die kind is veilig gevind.

Belinda ·

Sien dis hoekom mens nie eintlik fotos van mens se kinders op sosiale media moet deel nie, nog minder “location share”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.