Cleo se ontvoerder ‘onverhoorbaar weens vooroordeel’ – regslui

Cleo Smith (4) was saam met haar ouers by ’n kampterrein in Wes-Australië toe sy in die nag uit hul tent verdwyn het. (Foto: Facebook / Ellie Smith)

Senior regslui in Wes-Australië bevraagteken dit of Terence Kelly, Cleo Smith (4) se vermeende ontvoerder, ʼn regverdige jurieverhoor sal hê ná talle nadelige foto’s en mediadekking oor hom reeds verskyn het.

Dít sluit foto’s kort ná Kelly se inhegtenisneming in, waar hy kaalvoet en geboeid na ʼn polisievliegtuig begelei word. Ook sy bene was geboei – wat skerp kritiek ontlok het.

Die nuusblad The Guardian berig regskenners meen dat dié foto’s “heeltemal skadelik en bevooroordeeld” is. Menseregte-aktiviste het intussen ook gesê die gebruik van voetboeie om ʼn beskuldigde te vervoer, veral ʼn inheemse burger, moet “uitgedaag word”.

“Kelly is van verskeie misdrywe aangekla, waaronder kinderdiefstal. ʼn Hof het die verpligting om skuld of onskuld te bepaal, ongeag hoe die beskuldigde in die media uitgebeeld word.

“Die gebruik van voetboeie dui nie op skuld nie – dis iets wat ʼn hof moet beslis,” lui die berig.

Die Wes-Australiese departement van justisie het gesê die gebruik van boeie is “roetinepraktyk om die veilige vervoer en beweging van gevangenes te verseker”. Daar was ook sprake dat Kelly geboei is om te verhoed dat hy homself seermaak.

Adv. Tom Percy, woordvoerder vir die Australiese Prokureursgenootskap, is egter oortuig dat Kelly selfs sonder die plasing van dié foto’s “onverhoorbaar” is weens die omvang van die mediadekking oor die saak.

“Die haat en vyandskap wat reeds in die openbaar teen Kelly ontlok is, sal ʼn jurieverhoor haas onmoontlik maak.”

Foto’s van Kelly direk ná sy inhegtenisneming – op die teerpad en in die ambulans – is wyd oor die land en ook in die buiteland gepubliseer en op TV-bulletins gewys.

“Sommige verslaggewers berig by Kelly se foto’s dat hy vir die kamera geknipoog het, terwyl hy vermoedelik sy oog weens sonlig toegemaak het.”

Verskeie medialede het ook oor Kelly se beweerde obsessie met die Bratz-modepoppe berig en foto’s van ʼn kamer vol dogtertjiespeelgoed geplaas. Dié kamer was vermoedelik in Kelly se huis waar Cleo 18 dae lank aangehou is. Kelly het glo ook verskeie sosialemediaprofiele gehad, waarvan een Ellie Smith, Cleo se ma, se sosialemediaprofiel “gevolg” het.

Die polisie het nog steeds nie hierop kommentaar gelewer nie.

In Wes-Australië is daar wel die alternatiewe keuse om ʼn verhoor sonder ʼn jurie te hê. Kelly sal na verwagting op 6 Desember weer in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Cleo is op 16 Oktober uit die tent wat sy met haar gesin by die Blowholes-kampterrein gedeel het, ontvoer. Sy is sowat drie weke later in die vroeë oggendure ongedeerd deur Wes-Australiese polisie uit ʼn huis – glo dié van Kelly – gered. Kelly is kort voor die redding in ʼn nabye straat deur polisiebeamptes aangekeer.

Daar is nou ook sprake dat ʼn tweede persoon dalk by die ontvoering betrokke was. Dit is egter nog nie deur die polisie bevestig nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Janice ·

Ongelukkig is dit die gevolge as demokrasie te ver gevoer word.

anniekiewiet ·

Ek kon nog nooit so ‘n juriestelsel verstaan nie. Om te besluit wie is skuldig of nie, hang dalk meer af van wie se span die beste/swakste indruk maak. Hoeveel mense is oor dekades al onskuldig tronk toe gestuur?

groenboer ·

Ek stem saam, en hierdie saak illustreer die probleme met die juriestelsel. Mens sal tog nie ‘n komitee van amateurs aanstel om ‘n nuwe brug te ontwerp or mediese diagnose te maak nie, so waarom dan om ingewikkelde regsbesluite te neem?

In ieder geval, my indruk is dat die man nie by sy volle verstand is nie. Hy het dalk hulp nodig eerder as tronkstraf.

Maroelafonteiner ·

‘n Mens wat hom- of haarself skuldig aan kinderdiefstal maak, behoort deur die gemeenskap gemarginaliseer en veroordeel te word. Die kind se basiese reg op veiligheid en geborgenheid word nie deur so ‘n mens in ag geneem nie, dus is dit vreemd dat die oortreder se regte as so belangrik geag word.

Tiptol ·

Belaglik. Nes SA. Aktiviste het altyd baie te sê tot daar iets teen hulle familie gedoen word.

Sarel ·

Klink soos SA… Menseregte aktiviste gee meer om vir die
Misdadiger as dir skagoffer”

AndrewL ·

Ek wonder of die regsmense dieselfde siening sou hê as dit een van hul kinders was wat ontvoer is? Feite bly feite in enige hof – of daar nou vooroordeel was in die media of nie.

Sou die howe so iets toelaat, sal dit ‘n stormloop van sake teweegbring waar mense sg. vooroordeel gebruik om hul van wandade te ontsnap. Dink net aan die fotos wat versprei word van gearresteerde rowers( al word hul gesigte nie gewys nie).

Jr ·

Ooh die kriminele wêreld wyd het meer regte as die slagoffers. Dat geleërde ( kamstag) mense sulke snert redenasies kan uitdink laat my net kop skud. Dan is ek bly ek is wys en nie geleered nie

Grassie ·

Ek is werklik dankbaar dat die juriestelsel nie in ons land gebruik word nie. Die sg. regsverteenwoordigers ontaard in akteurs. Die wat die beste “show” kan opsit wen die guns van die jurielede, wie geen regskennis het nie, en wen die saak. Dink net wat sal in ons land gebeur as die “peoples” op ‘n jurie dien waar ‘n boer, wat homself en sy gesin teen ‘n aanval verdedig het, voor die hof verskyn.

Dirk Mostert ·

Asseblief! Hoe belaglik kan die regstelsel wees. Oral ter wereld.

Gerhard ·

Hulle moes hom om die nek ook geboei het..Hy is n gemors wat nie in die samelewing hoort nie…You do the crime you do the time….As hy gevonnis word en op gesluit is gooi sommer die sleutel weg

Jax ·

Twak! Hy gaan vrygelaat word en iemand gaan hom “uithaal” en dan is die weer voor die hof vir moord. Wat op aarde gaan aan! Die man, ongeag sy ras of enige iets anders, het willens en wetens die kind ontvoer en aangehou. Geen versagtende omstandighede nie! As die polisie en media nie ingegryp het nie, sidder ek om te Dink wat vir die ou dogtertjie sou word! Dis net n booswig wat besluit om so n ou kindjie van haar ouers af te neem en aan te hou! Die kind en haar ouers het niks aan hom gedoen om sy aksies eers te probeer vergeldig nie. Hy is n Baie Baie siek mens – sluit hom op waar dit o moontlik Sal wees om dit weer te doen want hy Sal sou hy weer op vryevoet wees. Die regstelsels moet beslis hersien word. Absoluut belaglik! Loutere twak en onsin – enigste beskaafde woorde wat ek hier Sal mag plaas!

Fanie ·

Weens die wêreldwye menseregte het die kriminele deesdae MEER regte as enige slagoffer. Dit was egter die krimineel se keuse om iemand anders (die slagoffer) se menseregte te vertrap en dus sy of haar eie regte ongeldig te maak. Sodra dit toegepas word sal baie dinge verander maar tot dan sal misdadigheid aangaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.