Cleo Smith: Polisie soek nou na voertuig

Cleo Smith (4) was saam met haar ouers by ’n kampterrein in Wes-Australië toe sy in die nag uit hul tent verdwyn het. (Foto: Facebook / Ellie Smith)

Die polisie in Wes-Australië is nou opsoek na ʼn ligte passasiersvoertuig wat moontlik tot ʼn deurbraak in die soektog na die vermiste kleuter Cleo Smith (4) kan lei.

Die nuusblad Perth Now berig ooggetuies het die motor omstreeks 03:00 Saterdagoggend, 16 Oktober by die Blowholes-kampterrein sien uitry. Die motor het glo op die North West Coastal-snelweg geklim en in die rigting van Carnarvon gery.

Die ooggetuies kon egter nie ʼn duidelike beskrywing van die motor gee nie, aangesien dit baie donker was. Die polisie is tans in die proses om beeldmateriaal van veiligheidskameras in dié omgewing bymekaar te maak.

Sky News in Australië berig speursersant Rod Wilde het Sondag ʼn beroep op die insittendes van die voertuig gedoen om navore te kom sodat die polisie met hulle kan praat.

Hy het benadruk dat hulle nie verdagtes is nie, maar sê dis uiters belangrik om met almal te praat wat op die betrokke dag by die kampterrein was.

“Ons wil met die bestuurder en insittendes – indien daar nog mense in die motor was – praat om vas te stel wat aangegaan en waarmee hulle besig was.”

Die polisie het intussen ook op bewyse afgekom wat enige vermoede uit die weg ruim dat die kleuter in die eerste plek nooit by die kampterrein was nie.

Cleo Smith (4) was saam met haar ouers by ’n kampterrein in Wes-Australië toe sy in die nag uit hul tent verdwyn het. (Foto: Facebook / Ellie Smith)

Luidens ʼn berig op Daily Mail kan Cleo se stem op oudiovisuele beeldmateriaal van ʼn kringtelevisiekamera naby die tent waar sy en haar gesin gekamp het, gehoor word.

“Dit bevestig dat sy inderdaad saam met haar ouers by die kampterrein was,” het Wilde gesê.

Maroela Media het vroeër berig Cleo en haar rooi-en-swart slaapsak het uit die die tent wat sy met haar ma, Ellie, stiefpa, Jake Gliddon en kleinsus, Isla Gliddon, gedeel het, verdwyn.

Die gesin het saam gekamp en Smith het haar dogtertjie omstreeks 01:30 Saterdagoggend laas gesien.

Toe die gesin om later die oggend wakker word, was Cleo weg.

Die Australiese polisie glo Cleo is uit hul tent ontvoer en moontlik reeds uit die omgewing of selfs die staat geneem.

Die soektog na Cleo in en om die kampterrein is Vrydag na sewe dae afgelas en ʼn spesiale taakmag is nou met ʼn uitgebreide soektog besig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

piet ·

Patetiese ondersoekwerk as jy in gedagte hou hoe laag hulle misdaadsyfer is en hoe baie polisiehulpbronne hulle tot hul beskikking het. Sukkel om een geisoleerde sakie op te los. Kry SA polisie in om hulle te wys hoe dit gedoen word!!!!!!

Barney ·

MAW jy wil hê hulle moet niks doen nie? Of die dossier verloor? Of ‘n bribe vat voor hulle begin? Aangesien jy so op hoogte is van die patetiese ondersoekwerk, neem ek aan jy het ‘n informant in hulle polisiemag wat jou inlig oor alles wat hulle in die ondersoek gedoen het sover.

piet ·

Wat ek wel weet is dat amper 2 weke al verloop het en daar geen vordering gemaak is nie. Klink nie vir my na spoggerige ondersoekwerk nie.

SlinkseKoljander ·

SA polisie sal by KFC gaan sit en niks doen nie.

Misky ·

Sy is nou al 9 dae weg en my hart gaan uit na daai arme ouers. Ek praat as mamma en dit moet die ergste gevoel wees om nie jou kind veilig in die bed te kan nagsê saans nie

Cherokee ·

Nie slegs die ouers nie, maar ook die kind. Hoe verward moet sy wees as sy ontvoer is.

Tipper ·

Weet nie of dit goeie raad is nie,maar die beste vir daai mense sal wees om na n Gees vervulde Pastoor te gaan sodat hy kan bid en die Here sal dan die die saak uitwerk en openbaar en dan die speurders op die regte spoor bring.

piet ·

Bennie Griessel en Vaughn Cupido sou al lankal hierdie saak opgelos het

FJ ·

Ewe skielik maak jou vorige kommentare (spesifiek op ander berigte) sin. Fiksie is koning.

Glynis ·

Ek kan nie eers dink waardeur haar ouers moet deurgaan nie. ‘n Mens se kinders is goud werd!
Ek dink die Australia se polisie moet nou hulp van ander lande kry, bv die FBI.

Waarnemer ·

Dit laat my dink aan die DINGO geval van jare gelede…ook in Australie as ek dit nie mis het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.