Cobain se trui laat spat rekord by veiling

Kurt Cobain (Foto: Facebook)

’n Ongewaste trui van Kurt Cobain, die ontslape voorsanger van die legendariese rockgroep Nirvana, is die naweek vir ’n yslike bedrag van $334 000 (sowat R4 886 420) in New York opgeveil.

CNN berig Cobain het dié olyfkleurige trui by Nirvana se beroemde MTV Unplugged-vertoning in New York in 1993 gedra. Cobain is die jaar daarna oorlede en die trui is sedertdien nooit gewas nie. Die verslete toeknooptrui pryk dus met verskeie vlekke en ’n gat wat vermoedelik destyds met ’n sigaretstompie in die trui gebrand is.

Volgens Julien’s Auctions wat die veiling aangebied het, is dit die duurste trui wat nog ooit by ’n veiling verkoop is.

The Guardian berig die trui is gedurende ’n tweedagveiling by die Hard Rock Café in New York opgeveil. Die trui is gedurende die veiling as “een van die bekendste truie in die musiekgeskiedenis” beskryf.

Cobain se linkshandige Fender Mustang-kitaar is ook by die veiling opgeveil vir $340 000 (sowat R4 974 200). Cobain het dié kitaar gedurende die groep se In Utero-toer in 1993 gebruik.

Meer as 700 items wat vantevore deur legendes besit en gebruik is, onder wie Elvis Presley, die Beatles, Michael Jackson, Madonna, Queen, Bob Dylan en Jimi Hendrix, was Vrydag en Saterdag by die veiling te sien, berig The Guardian.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rooiwillen ·

Goed bewoord Mieke. Ek dink Kolskoot probeer maar net ons ou volkie se eng uitkyk op die wêreld beklemtoon …

Sê net ·

Aan die wat so kla, jy tik op ‘n rekenaar of tablet of slimfoon wat ook meer gekos het as wat nodig was. Hoekom het julle nie goedkoper weergawes, of geen, gekoop en die geld wat jy gespaar het vir Bybels, droogtehulp of armsorg geskenk nie? As ek eerlik gewerk het vir my geld kan ek daarmee maak net wat ek wil. Ek kan selfs ‘n belegging soos ‘n trui koop.

Grassie ·

Toe ek die foto sien het ek gewonder wat het Faf nou weer aangevang. Miskien moet hy sy trui ook laat opveil.

Swanna ·

Daai ding pong seker so dat jy nie naby kan asem haal nie. Belaglikheid van die siek mensdom.

JC ·

Ek was nog altyd ‘n aanhanger van Nirvana. Veral Kurt Cobain. Hierdie mense wat se dis belaglik dat die trui vir soveel geld verkoop het verstaan duidelik nie die waarde daarvan nie…

JosiL ·

Soos die Beatles, dink en glo ek dat Nirvana baie overrated is, en hul naam gevind het deur sy dood. Ek is glad nie n fan nie, maar weet wat die waarde is in die. Niks fout met die nie.

Ek ·

Was die trui ÓÓIT gewas? Sy hare is nie.
Het hy die trui aan gehad toe hy dood is?

:-p ·

Ek het 2 vol mandjies vuil wasgoed as iemand belangstel.. Ek sal settle vir R2 miljoen so dis ‘n winskopie …
Sal weekliks kan voorsien teen dieselfde prys

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.