Collins se woord van die jaar is…

data-digitaal-rekenaar-brille

Foto ter illustrasie (Foto: Kevin Ku/Pexels)

Collins het sopas hul woord van die jaar vir 2021 aangekondig, en dit is nie ʼn woord nie.

Die afkorting “NFT”, wat na “non-fungible tokens” verwys, het stof in die oë van woorde soos “crypto” en “double vaxxed” wat ook die kortlys was, geskop. Dit is weens die verstommende tempo waarteen digitale items se gewildheid vanjaar gegroei het.

Volgens Collins is ʼn nieverwisselbare item (NVI) ʼn unieke kriptografiese bewys (“token”) wat gebruik word om eienaarskap van digitale bates soos kunswerke of versamelstukke aan te dui.

Alex Beecroft, Collins Learning se besturende direkteur, sê egter dit is ongewoon dat ʼn afkorting so ʼn snel toename in gebruik ervaar, maar dié merkwaardige groei is duidelik in die Collins Corpus weerspieël.

“NVI’s blyk oral te wees: Van die kunsafdelings en die finansiële bladsye, tot in galerye, by afslaers en oor sosialemediaplatforms heen.

“Of dit ʼn blywende invloed sal hê, moet nog bepaal word, maar as gevolg van die skielike teenwoordigheid in gesprekke reg oor die wêreld kon ons nie anders as om dit as die woord van die jaar te kies nie.”

Maroela Media het vroeër berig die Kaapstadse sakeman Charl Jacobs het R105 000 deur middel van ʼn NVI aan ʼn digitale replika van ʼn renosterhoring spandeer. NVI’s is ideaal vir kunsversamelaars wat miljoene dollar spandeer aan digitale tekeninge, musiek en video’s. Maroela Media het vroeër ook berig oor ʼn foto en ʼn video wat deur middel van ʼn NVI verkoop is.

NVI’s is in effek digitale bates met ʼn egtheidsertifikaat. Alhoewel sommige verward sou wees oor die idee dat jy iets aankoop wat oneindig gereproduseer kan word, is daar tans ʼn groot aptyt vir NVI’s in markte wêreldwyd omdat kopers graag wil spog dat hulle oor die gesertifiseerde oorspronklike item beskik.

Collins se leksikograwe monitor die korpus, of taalbron, van sowat 4,5 miljard woorde om hul woord van die jaar te kies. Volgens die woordeboekmakers het hulle vanjaar op NVI besluit omdat die begrip ʼn “unieke samekoms van kuns, tegnologie en handel” demonstreer wat bo die Covid-19-geraas opgeklink en alombekend geword het.

Oxford English Dictionary het vroeër “vax” as sy woord van 2021 aangewys, en opgemerk dat die gebruik van die woord in September meer as 72 keer hoër was as die vorige jaar. Collins se woord van die jaar in 2019 was “climate strike” en in 2020 was dit “lockdown”.

Die ander woorde op Collins se woord van die jaar-kortlys was: “cheugy”, “climate anxiety”, “hybrid working”, “metaverse”, “neopronoun”, “pingdemic” en “Regencycore”. Lees hier meer oor Collins se top-10‑woorde vir 2021.

Bronne: BusinessInsider en The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Ek is mal oor die woord snowflake.
Dit is sooo gepas en beskrywend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.