Colombië se president kry Nobelprys vir vrede

Juan Manuel Santos. Foto: Wilson Dias/ABr, CC BY 3.0 via Wikimedia Commons

Juan Manuel Santos. Foto: Wilson Dias/ABr, CC BY 3.0 via Wikimedia Commons

Die Nobel-komitee in Noorweë het besluit om die Nobelprys vir vrede vir 2016 aan ʼn president toe te ken.

Die Nobelprys is aan Colombië se president, Juan Manuel Santos, toegeken. Dit is grotendeels te danke aan sy voortgesette pogings om dié land se langer as 50-jaarlange burgeroorlog tot ʼn einde te bring.

Die prys dien ook as ʼn huldeblyk aan die mense van Colombië, wat te midde van die oorlog nie moed opgegee het nie en geglo het daar sal eendag vrede in die land wees. Dit word ook opgedra aan die slagoffers van die oorlog.

President Santos was verantwoordelik vir die aanvanklike onderhandelinge wat die vredesverdrag tussen die Colombiaanse regering en FARC-rebellegroep tot gevolg gehad het. Hoewel hy bewus was daarvan dat die verdrag omstrede is, het hy steeds verseker burgers van die land kon daaroor stem.

Nagenoeg 13 Miljoen Colombiane het daarteen gestem. President Santos het ten spyte daarvan alle betrokke partye genooi om deel te neem aan ʼn breë nasionale dialoog, wat daarop gemik is om die vredesbal aan die rol te sit.

Die Nobelpryskomitee het in ʼn verklaring gesê dat hulle wil graag almal wat na vrede en versoening in Colombië streef, bemoedig. “Die president self het dit duidelik gemaak hy sal nie ophou werk om vrede in die land te bewerkstellig tot sy laaste dag as president nie,” het die verklaring gelui.

“Die burgeroorlog in Colombië is een van die langste nog in moderne tye. Ons, as die komitee, glo president Santos het, ten spyte van die ‘nee’ stem vir die verdrag, die land baie nader aan vrede gebring. Sy bedoelings en onderhandelinge bevorder en strook met die kriteria en gees van Alfred Nobel se wense”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.