Conor McGregor gee hom aan polisie oor

Conor McGregor onlangs in Las Vegas. (Foto: ANA)

Conor McGregor onlangs in Las Vegas. (Foto: ANA)

Die Ierse professionele gemengdevegskuns-kampioen, Conor McGregor, het hom Donderdag aan die polisie in New York in die VSA oorgegee ná ʼn voorval waarin hy die ruit van ʼn bus, wat sy mede-UFC-vegters vervoer het, met ʼn ysterpadversperring stukkend gegooi het.

Volgens BBC het die skermutseling plaasgevind by die Barclays Centre in Brooklyn, New York, tydens ʼn mediageleentheid vir die liggewiggeveg tussen McGregor se mededinger, Khabib Nurmagomedov, en Max Holloway. Nurmagomedov was volgens mediaberigte ook in dié bus.

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe McGregor die bus met ʼn ysterpadversperring en stoele slaan. Michael Chiesa, een van die UFC-vegters op die bus, het tydens die voorval snye aan sy gesig opgedoen en sal nie aan komende gevegte kan deelneem nie. Ray Borg het ook beserings aan sy korneas opgedoen en Artem Lobov is sy volgende geveg belet weens sy betrokkenheid by die voorval.

Lobov was volgens The Independent deel van die groep wat saam met McGregor op die gebou afgestorm het.

McGregor is Donderdag van sy titel as liggewigkampioen gestroop. Hy het in November 2016 die laaste keer professioneel meegeding toe hy die geveg teen Eddie Alvarez gewen het.

Hy het ook in Augustus 2017 in Las Vegas teen die bokskampioen Floyd Mayweather jr. meegeding in die sogenaamde “money fight”, waartydens Mayweather hom in die 10de ronde geklop het.

Donderdag se skokvoorval volg nadat Dana White, president van die UFC, die geveg tussen Nurmagomedov en Holloway by die UFC 223 vir McGregor se liggewigkampioentitel aangekondig het, aangesien die Ierse vegter sedert 2016 afwesig van dié sport is.

In die nadraai van die voorval het White dit as “krimineel” bestempel. “Wat vandag gebeur het, was krimineel, walglik en dit maak my siek,” het hy in ʼn mediakonferensie gesê.

The Independent het ook berig dat McGregor hom aan die owerhede oorhandig het en teen Vrydagoggend vroeg voor ʼn regter sy saak sal moet stel. Dit is egter nie duidelik wat presies die aanklagte teen McGregor sal wees nie.

“Soos jy kan dink, sal hy gedagvaar word,” het White volgens The Daily Telegraph gesê. “Dit was ʼn baie slegte loopbaanskuif vir hom.”

McGregor het kortliks oor die voorval op Twitter reageer: “You’s’ll strip me of nothing you’s do nothing c***s.” [sic]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ruan ·

Vir ‘n professionele vegter moet hy sommer van die hele UFC en die EFC geskors word lewenslank.

Attie No1 ·

Nee Ruan, laat hy eerder kom pakslae kry dit is waarvoor die Oktogan daar is. Hy kan die wenner tussen Khabib en Holloway uitdaag, albei daai manne is meer as bereid om hom aan te vat, om die waarheid te se nadat hy sy tyd gaan mors het met boks hoop ek hy kom nou na die geveg terug om daardie pakslae te kry.

Attie No1 ·

Ja wel as jy nie bereid is om te baklei om jou belt te verdedig nie dan verloor jy dit, klaar. Ek hoop Holloway wen maar Khabib is op sy kruin so sal maar sien, kan nie wag vir daardie geveg nie. As McGregor die belt wil terug he kan hy die wenner uitdaag. Hierdie is nie boks waar jy elke vierde jaar balei nie, hierdie is diep diviesies met hordes jong manne wat hul staal wil wys, so jy staan jou man of loop gooi stoele by jou huis rond.

Duitser ·

Die bokkapaterkie dink hy is n mannetjie maar net die ander dag het n ou oom hom n boksles geleer.

Veritas ·

Duitser jy moet onthou dat Mayweather in ‘n klas van sy eie is. Wat sou die resultaat wees as Mc Gregor in sy eie styl sou veg? Hy het met ‘n agterstand van bokservaring, in die kryt geklim en hom steeds baie goed van sy taak gekwyt .

Oom Kalahari ·

Mnr Conor McGregor het ‘n geweldige ego en wil gedurig sy geweldadige houdingten toon stel. Help nie om dinge rond te gooi van frustrasie wat nie kan terugveg nie. Behou jou waarde en dissipline hetsy in die Openbaar, publieke plekke ens maar wys dan jou staal in die bokskryt. Daar is altyd jonger garde wat opkom en as uitdagende opponente gaan toetree om die titel. Dit gaan nie help as jy die titel het en nie uitdagings wil neem nie. Soos almal bo noem, herwin dan jou titel met die wenner van Holloway en Khabib. Laat staan tog net asb daardie Macho houding en wees met jou voete op die grond en jy gaan meet respek verdien Conor. Sterkte vorentoe met jou saak en loopbaan.

Denise ·

Oi Conor dont worry i love you no one can strip you not the Irish !!!! Looking forward to see you in your next fight!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.