Countrymusiekster Charley Pride sterf

Charley Pride (Foto: Terry Wyatt/Getty Images for CMA/AFP)

Die Amerikaanse countrymusiekster Charley Pride is Saterdag weens Covid-19-komplikasies dood. Hy was 86 jaar oud.

Pride is in Dallas in die Amerikaanse deelstaat Texas oorlede, het familie bevestig.

Pride was veral bekend vir country-treffers uit die 1970’s, waaronder “Kiss an Angel Good Mornin”. Hy was ook die eerste Afro-Amerikaner wie se naam in die Country Music Hall of Fame opgeneem is.

Pride het ʼn kontrak met die platemaatskappy RCA Records aangegaan en het die maatskappy se grootste verkoper geword sedert Elvis Presley.

Verskeie bekendes, onder wie die countrysangeres Dolly Parton, het intussen hul medelye betuig. “Charley, ons sal altyd lief wees vir jou,” het Parton gesê.

Die countrysanger Billy Ray Cyrus het Pride as ’n “ware baanbreker” bestempel.

Pride se dood volg ’n maand nadat hy ’n toekenning by die 54ste Country Music Association Awards in Nashville ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.