Covid-19: 20 miljoen gevalle in VSA bevestig

vsa-vlag-amerika-amerikaans

Foto: Samuel Branch/Unsplash.com

Die VSA het Vrydag 2021 binnegegaan deur die buitengewone mylpaal van 20 miljoen gevalle te oortref.

Meer as 347 000 sterftes is reeds in die VSA aangemeld – verreweg die hoogste dodetal vir enige land.

Die Amerikaanse entstofprogram, wat in 2021 na verwagting ʼn vinnige einde sal bring aan die pandemie, word vertraag weens logistiese probleme en hospitale wat onder druk is. Nagenoeg 2,8 miljoen persone in die VSA het reeds hul inenting ontvang, maar dit is baie laer as die 20 miljoen inentings wat pres. Donald Trump se administrasie teen die einde van 2020 verwag het.

Minstens 1,8 miljoen persone is reeds wêreldwyd oorlede sedert die koronavirus vir die eerste keer in Desember 2019 bevestig is.

Die Duitse firma BioNTech het Vrydag gesê hy versnel die vervaardiging van sy Covid-19-entstof om ʼn tekort aan te spreek wat deur ʼn gebrek aan ander goedgekeurde entstowwe in Europa gelaat word. Lande soos Brittanje, Kanada en die VSA het die Pfizer-BioNTech-entstof vroeër goedgekeur en het intussen ook die groen lig gegee vir entstof deur die Amerikaanse firma Moderna of Oxford-AstraZeneca.

Daar is wêreldwyd kritiek oor die slakkepas van inentings. Senior dokters in Duitsland het gekla hospitaalpersoneel wag nog steeds, selfs al is hulle in die prioriteitsgroep. Frankryk het ook soortgelyke klagtes aangemeld en die regering het aangekondig gesondheidswerkers, ouer as 50, sal van Maandag af ingeënt word – vroeër as wat daar aanvanklik beplan is.

Die Franse regering het Vrydag ook die landswye aandklokreël in 15 streke verleng. Die aandklokreël sal reeds om 18:00 begin, eerder as 20:00. Teaters, flieks en konserte bly tot minstens 7 Januarie gesluit.

Nuwejaarspartytjies in stede soos Sydney, New York, Rio de Janeiro en Edinburgh is grootliks afgeskaal of gekanselleer en skare is verhoed om dit by te woon.

Brittanje het Donderdag gesê hy het reeds 950 000 persone ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.