Covid-19-betogings saai chaos in Europa

Covid-19-betoging in Kanada. (Foto: Ed Jones/AFP)

Stede wêreldwyd is die afgelope paar dae in chaos gedompel nadat betogings teen Covid-19-regulasies, wat sowat drie weke gelede in Kanada ontstaan het, soos ʼn veldbrand versprei het.

Die bestuurders van ʼn konvooi vragmotors en kampeerwaens in Kanada, wat teen die Covid-19-beperkings en gedwonge inentings in die land betoog, het soortgelyke bewegings in Frankryk, Nederland en Switserland tot gevolg gehad. Sommige Amerikaanse vragmotorbestuurders oorweeg ook nou ʼn betoging vir Maart.

Die betogings in Ottawa duur drie weke later steeds voort. Altesame 4 000 betogers het Saterdag hier byeengekom.

Die polisie kon wel daarin slaag om ʼn sleutelpunt vir oorgrenshandel tussen die land en die VSA weer oop te stel nadat dit byna ʼn week gelede deur betogers gesluit is.

Die Ambassador-brug in Windsor is weer oopgestel. (Foto: Jeff Kowalsky/AFP)

“Die Ambassador-brug is nou weer oopgestel, wat weereens die vrye vloei van handel tussen die Kanadese en Amerikaanse ekonomieë toelaat,” het die Detroit‑ internasionale brugagentskap in ʼn verklaring gesê.

Die polisie het Saterdag begin om betogers met vragmotors en kampeerwaens van die brug wat die Amerikaanse deelstaat Michigan met Kanada verbind, te verwyder. Sommige betogers het egter geweier om bes te gee en verkeer vir nog ʼn dag versper.

Teen Sondag het die polisie minstens 30 betogers in hegtenis geneem.

“Geen onwettige aktiwiteite sal verdra word nie,” het die polisie in Windsor, Ontario, gesê.

Terwyl verhoudinge tussen owerhede in Kanada en die betogers grotendeels vreedsaam was, was wetstoepassers elders in die wêreld nie so genadig nie.

Frankryk

Covid-19-betoging in Frankryk. (Foto: Sameer Al-Doumy/AFP)

Die polisie in Parys het Saterdag traangas afgevuur en honderde boetes uitgereik aan bestuurders van ʼn konvooi voertuie wat probeer het om verkeer te versper. Dié betogers is nie net teen allerlei Covid-19-regulasies gekant nie, maar ook die stygende lewenskoste in die land.

Meer as 100 vertuie het naby die Arc de Triomphe byeen gekom in ʼn poging om toegangspunte na die stad te versper.

Die polisie het traangas gebruik om die groep uiteen te jaag.

Volgens Gerard Darmanin, minister van binnelandse sake, het beamptes 54 betogers in Parys in hegtenis geneem en 337 boetes uitgereik.

Owerhede het reeds verlede week gewaarsku dat enige Covid-19-betogings dadelik, en met gevolge, in die kiem gesmoor sal word.

Hoewel die polisie die ongemagtige betoging as ʼn “bedreiging vir die openbare orde” bestempel het, stem betogers nie hiermee saam nie.

“Dit is verraad,” sê Sophie Tissier. “Die [polisie se] optrede respekteer nie die wet en ons vryheid om te betoog nie.”

Eerste Minister Jean Castex het egter die polisie se optrede verdedig.

“Die reg om te betoog en om ʼn mening te hê is ʼn grondwetlike reg in ons demokrasie, maar die reg om ander te verhoed om vrylik rond te beweeg, is nie.”

België

Ná pogings om te betoog die afgelope naweek in Parys misluk het, het honderde motors, kampeerwaens en vragmotors gereed gemaak om Brussel Maandag binne te gaan.

Sowat 1 300 voertuie reg oor Frankryk het Sondagaand naby die Franse grensdorp Lille byeengekom en by ʼn parkeerterrein kampeer terwyl hulle Franse vlae geswaai en “ons sal nie opgee nie” en “vryheid, vryheid” gesing het.

“Ons sal na Brussel gaan om teen die beleid van permanente beheer deur die pandemie te veg,” het Jean-Pierre Schmit, ʼn 58-jarige werklose man van Toulouse, gesê.

Belgiese owerhede het egter alle betogings in die hoofstad verbied en gesê hulle het reeds verskeie maatreëls getref om enige onwettige versperrings te voorkom.

Nederland

Covid-19-betoging in Nederland. (Foto: Phil Niijhuis/ANP/AFP)

Sommige betogers van Nederland beplan glo ook om na België te gaan om Covid-19-regulasies teen te staan. Dit volg nadat ʼn konvooi voertuie Saterdag by Den Haag opgeruk het juis in protes teen dié regulasies.

Honderde voertuie het gedurende die dag die ingang tot die Binnehof, die setel van die Nederlandse regering, versper.

Nadat die polisie egter betogers gewaarsku het dat hulle beboet of in hegtenis geneem sal word as hulle nie padgee nie, het die meeste betogers onttrek.

Volgens die Nederlandse persagentskap ANP het die meeste betogers die gebied sonder ophef verlaat, maar ligte skermutselings het uitgebreek nadat die vragmotors weggery het.

“Die polisie het die groep mense uiteengejaag en minstens twee mense in hegtenis geneem.”

Verskeie betogers het aangevoer dat hulle na België se hoofstad sal reis, of selfs na Parys, sodat fundamentele en langdurige verandering wat betref Covid-19-regulasises en gedwonge inentings aangebring kan word.

Switserland

Honderde mense het Saterdag in Zürich, Switserland, opgeruk in protes teen Covid-19-beperkings. Die polisie het boonop hul hande vol gehad met ʼn tweede groep dwarstrekkers wat in opstand gekom het teen dié wat ontevrede is met die regulasies.

Albei optogte was glo onwettig. By een van die betogings was polisie selfs genoop om traangas, pepersproei, waterkanonne en rubberkoeëls te gebruik om die skare uiteen te jaag.

“Sommige deelnemers aan die ongemagtigde betogings het probeer om deur die polisieversperrings te breek, daarom moes hulle op gewelddadige wyse verwyder word,” het die stad sê polisie gesê.

Die nooddienste is ook in sommige gevalle erg geteister en etlike betogers is in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
krodedil

Een van die dae is Suid Afrika ook vol betogings teen entings en inperkings.

Arno

Huidiglik in Nederland is dit heel rustig, maar ek stem saam dat Covid-19-regulasies moet bietjie ent kry. Meeste EU regeerings het onredelik op getree gedurende die Omicron variant en mense raak so bietjie keelvol vir al die beloftes wat nie na gekom word nie. Infeksies neem nog toe, maar hospitalisasies neem drasies af, so hulle raak uit redes uit om mense te oortuig dat hulle nog die regulasies moet volg. In Austria doen hulle spot checks en as jy nie in geent is nie, beboet hulle mense tot in met €1000. Baie EU lande probeer maar om nie tot daai… Lees meer »

Marius

Dis hoog tyd dat mense saamstaan teen regerings wat dink hul kan die belasting betalers wat hulle in die stoel sit vertrap en onderdruk. Ons is nou keelvol.

Anel

Dié is nou een betoging wat ek sal bywoon. Verstaan regerings nie hulle burgers nie, of wat?

Robert

Baie minder chaos as wat die regerings se inperkings gesaai het…