Covid-19: Britse premier in hospitaal

Dit is maar die derde keer dat Koningin Elizabeth II so ‘n buitengewone TV-rede lewer. (Skermgreep)

Die Britse premier Boris Johnson is Sondagaand in ʼn hospitaal opgeneem weens simptome van die nuwe koronavirus wat net nie wil wyk nie.

Dit kom tien dae nadat Covid-19 by die 55-jarige eerste minister gediagnoseer is.

“Die eerste minister is vanaand [Sondag] op aanbeveling van sy dokter in ʼn hospitaal vir toetse opgeneem,” het ʼn woordvoerder van 10 Downing Street gisteraand gesê.

“Dit is ʼn voorkomende maatreël omdat die eerste minister steeds simptome van die virus toon tien dae nadat hy positief daarvoor getoets het.”

Johnson sal tydens die toetse in beheer van die Britse regering bly en is verbinding met sy kabinet, het die verklaring gelui.

Sou hy nie verder in staat wees om sy pligte uit te voer nie, sal die minister van buitelandse sake, Dominic Raab, luidens berigte by hom oorneem.

Johnson is die eerste Europese staatshoof wat positief vir die virus getoets het. Hy het op 27 Maart aangekondig hy gaan uit kwarantyn voort met sy pligte as Britse leier.

Intussen het koningin Elizabeth II Britte in ʼn seldsame TV-toespraak oor die virus toegespreek.

Die monarg het ʼn beroep op die land gedoen om “selfdissipline” aan die dag te lê.

Sy het die gesondheidskrisis bestempel as ʼn “ontwrigting wat smart vir sommige, finansiële uitdagings vir baie en enorme veranderinge in almal se daaglikse lewens” veroorsaak het.

Mense vermy mekaar in Primrose Hill, ‘n Londense park, terwyl hulle daar stap. Die parke bly oop maar die owerhede het gewaarsku dat die besluit opgehef sal word as mense nie aan die bepalings gehoor gee nie. (Foto: Matt Dunham/AP)

“Ek hoop in die jare wat kom sal almal kan trots wees op hoe hulle op die uitdaging reageer het en dat diegene wat ons ná ons kom sal sê die Britte van dié geslag was net so sterk soos enige ander,” het koningin in haar toespraak gesê kort voordat die nuus oor Johnson se hospitalisering bekend gemaak is.

Die toespraak is te midde van streng maatreëls by Windsor-kasteel opgeneem om die verdere verspreiding van die virus te verhoed.

Die 93-jarige koningin het gesê die land het al verskeie probleme te bowe gekom, maar dat dié een anders is. Sy het sleutelwerkers bedank wat onophoudelik werk sodat sake in ʼn stadium weer na normaal kan terugkeer. Sy het ook diegene bedank wat die regering se regulasies volg en tuis bly en het Britte geloof wat saamstaan om ander te help.

“Ons moet berusting vind in die wete dat hoewel ons nou selfs meer sal moet verduur, beter dae sal terugkeer: Ons sal weer saam met ons vriende wees, ons sal weer saam met ons gesinne wees; ons sal weer ontmoet.”

Anders as tydens haar jaarlikse Kersboodskap was daar tydens dié toespraak geen familiefoto’s in die agtergrond te siene nie.

Voor Sondag se spesiale toespraak was die laaste keer wat die koningin só ʼn toespraak gelewer het in 2002, toe sy die land oor die dood van die koninginmoeder toegespreek het. Sy het dieselfde gedoen ná die dood van prinses Diana in 1997 en ook tydens die Golfoorlog in 1991.

Altesaam 4 934 mense in Brittanje het reeds aan Covid-19 gesterf.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Deel van: Wêreldnuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frans

Mag die Britse Premier spoedig herstel.

Gawie

Ek lees vanoggend dat hy aan die begin van die pandemie COVID-19-pasiënte in die hospitaal gaan besoek het en almal se hand geskud het,”because people like shaking hands”.