Covid-19: Brittanje stry of skole moet oopmaak

Argieffoto (Foto: Grooveland Designs/Pixabay)

Die Britse eerste minister Boris Johnson het Sondag gesê hy het “homself met die vooruitsig van strenger regulasies versoen” om die verspreiding van Covid-19-gevalle in sy land te bekamp, terwyl daar tweespalt is oor of skole weer moet oopmaak.

“Dis moontlik dat ons dinge in die volgende paar weke sal moet doen wat in dele van die land moeiliker gaan wees,” het Johnson aan die BBC se The Andrew Marr Show gesê. “Ek is ten volle daarmee versoen.”

Brittanje het Saterdag altesaam 57 725 nuwe Covid-19-gevalle bevestig, die hoogste sedert die aanvang van die pandemie. Gesondheidsbeamptes is besorg dat die verhoogde getalle hospitale tydens die besigste tyd van die jaar kan oorweldig.

Johnson het aan ouers van jong kinders gesê hulle moet “absoluut” hul kinders skool toe stuur ná die Kersfees-breek, ondanks die feit dat verskeie onderriginstansies in die gebiede, wat die ergste deur die pandemie getref is, hul deure gesluit het.

“Ek het ʼn begrip vir mense se frustrasie en ek verstaan mense se angs, maar daar is geen twyfel by my nie – skole is veilig en opleiding is ʼn prioriteit. Ons het deur die loop van hierdie pandemie baie hard gewerk om seker te maak skole bly oop.”

Paul Whiteman, leier van die nasionale vereniging van onderwysers, het egter ʼn beroep op die regering gedoen om die oopmaak van skole ná die Kersfees-breek uit te stel, “sodat ons kan saamstem oor die regte versagtende maatreëls om hulle Covid-veilig te maak”. “Ons moet saamstem dat skool die beste plek vir kinders is, maar ons wil dit goed doen, ons wil seker maak dit is ʼn volhoubare terugkeer skool toe,” het hy aan BBC Breakfast gesê.

Johnson sê kenners oor openbare gesondheid wys op die langtermyn skade wat kinders opdoen as hulle nie skool toe gaan nie. “Daar is baie faktore wat in ag geneem moet word, veral wat betref die agterstand in agtergeblewe gemeenskappe,” het hy aan Marr gesê. “Die kwessie is hoe mens kan voorkom dat skole plekke word waar die virus sirkuleer. Weeklikse laterale vloeitoetse in skole kan ʼn groot verskil maak.”

Johnson, wat kritiek op die hals gehaal het oor die manier hoe hy die pandemie hanteer, het ook onthul dat 530 000 dosisse van die nuut goedgekeurde AstraZeneca/Oxford-entstof vanaf Maandag beskikbaar sal wees vir gebruik. Die Covid-19-dodetal staan op 74 000 in die land.

Ongeveer 1 miljoen persone is reeds in Brittanje ingeënt ná die Pfizer-entstof vroeg in Desember goedgekeur is. “Ons hoop om tien miljoene oor die volgende drie maande af te handel,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.