Covid-19: Dié lande verbied nou reis vanaf VK weens nuwe variant

Argieffoto (Foto: Fabrice COFFRINI / AFP)

Talle lande het ’n verbod op vlugte van die Verenigde Koninkryk (VK) ingestel nadat die land bekend gemaak het dat ’n meer aansteeklike variant van die koronavirus daar uitgebreek en sedertdien “buite beheer” versprei het.

Die lande sluit in:

Frankryk

Frankryk het Sondag gesê hy gaan alle reise vanaf die VK vir 48 uur vanaf Sondag om middernag verbied. Die verbod geld nie net vir reisigers nie, maar ook vir die vervoer van goedere per pad, lug, see of spoor.

Volgens die kantoor van premier Jean Castex sal die tydperk van 48 uur die Europese Unie (EU) kans gee om ’n strategie te formuleer sodat reis vanaf die VK weer toegelaat word “met verpligte toetsing by vertrek”.

Duitsland

Duitsland het ook vanaf middernag alle lugverbinding met die VK gestaak. Die verbod sal in dié stadium tot 31 Desember geld; vragvlugte is hierby uitgesluit.

’n Regeringsbron het aan AFP in Berlyn gesê die land werk reeds aan maatreëls om die verbod te verleng tot Januarie wanneer die einde van Brittanje se post-Brexit-oorgangstydperk tot gevolg sal hê dat EU-reëls wat die vlugverbod moontlik maak, nie meer van toepassing sal wees nie.

Italië

Argieffoto (Foto: Ina FASSBENDER / AFP)

Roberto Speranza, plaaslike minister van gesondheid, sê die nuwe variant is reeds by een persoon wat Italië onlangs vanaf die VK binnegekom het, gevind.

Alle vlugte van die VK na Italië is dus gestaak. Persone wat die afgelope 14 dae in die VK vertoef het, sal vir eers toegang tot Italië geweier word. Diegene wat onlangs vanaf die VK na Italië gereis het en reeds in dié land is, moet ook getoets word vir die koronavirus.

Ierland

Alle vlugte vanaf die VK word vanaf Sondag om middernag vir minstens die volgende 48 uur in Ierland verbied.

Kanada

Kanada verbied op sy beurt alle vlugte vanaf die VK vir 72 uur. Justin Trudeau, premier van Kanada, sê diegene wat reeds Sondag uit die VK in Kanada aangekom het, is onderworpe aan siftingstoetse en “gevorderde maatreëls”.

Nederland

Alle vlugte vanaf die VK na Nederland word tot 1 Januarie verbied. Dit volg nadat een geval van die nuwe variant in Nederland aangemeld is.

België

Alle reise per vliegtuig en trein vanaf die VK na België is vanaf middernag vir minstens 24 uur opgeskort, het Alexander de Croo, eerste minister van België, aangekondig.

Oostenryk

Argieffoto (Foto: Christof STACHE / AFP)

Die ministerie van gesondheid in Oostenryk het Sondag gesê Wene is besig om die besonderhede van ’n verbod op reis vanaf die VK uit te werk.

Swede

Swede se minister van binnelandse sake, Mikael Damberg, het gesê Swede is besig met voorbereidings om reisigers uit die VK so gou as moontlik in Swede te verbied. ’n Formele besluit sal na verwagting vandag aangekondig word.

Finland

Passasiersvlugte vanaf die VK mag vanaf Maandagmiddag vir die volgende twee weke nie in Finland land nie.

Switserland

Switserland verbied vanaf middernag alle vlugte van die VK tot verdere kennisgewing.

Ander lande wat vlugte vanaf die VK in dié stadium verbied, sluit in Estland, Latvia, Litaue, Bulgarye, Roemenië, Kroasië, Turkye, Iran, Israel, Saoedi-Arabië, Koeweit, El Salvador, Argentinië, Chili en Marokko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.