Covid-19: Dít is wat Suid-Korea reg doen

Reddingswerkers dra maskers in Daegu, Suid-Korea. (Foto: Kim Hyun-tai/Yonhap via AP)

Suid-Korea blyk die geheim agter die korrekte hantering van ’n pandemie te hê, met die kurwe vir Covid-19 wat reeds in dié land begin afplat het. Slegs twee en ʼn half maande nadat die land sy eerste Covid-19-geval aangemeld het, kon die land daarin slaag om die getal nuwe gevalle wat daagliks aangemeld word, af te bring tot minder as 50.

Dit terwyl ander lande nog daagliks honderde nuwe pasiënte diagnoseer. Dié geheim lê moontlik in die aantal toetse wat uitgevoer word, meen kenners.

Suid-Korea het Maandag 47 nuwe gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld. Dit is die laagste getal daaglikse gevalle wat sedert laat Februarie in dié land aangemeld het. Teen vanoggend (Dinsdag) is 10 331 bevestigde gevalle in Suid-Korea aangemeld. Altesaam 192 pasiënte het in dié land weens die virus omgekom. Altesaam 6 694 het in dié stadium reeds van die virus herstel.

Die land het op 20 Januarie sy eerste geval aangemeld: ’n Chinese vrou uit Wuhan, waar die virus in Desember uitgebreek het.

Die VSA het ’n dag later op 21 Januarie sy eerste geval Covid-19 aangemeld: ’n Man in die Amerikaanse deelstaat Washington wat ook van Wuhan die land binnegekom het. In teenstelling met Suid-Korea is dié land nou die episentrum van die virus, met 367 650 bevestigde Covid-19-gevalle in dieselfde tydperk aangemeld. Byna 11 000 pasiënte het reeds in dié land weens die virus omgekom. Altesaam 19 810 het wel reeds van Covid-19 herstel.

‘n Gesondheidswerker in Suid-Korea maak reg om pasiënte te behandel. (Foto: Ryu Young-seok/Yonhap via AP)

Hoewel die VSA ’n bevolking van meer as 331 miljoen mense het, vergeleke met Suid-Korea se bevolking van net meer as 51 miljoen, het Suid-Korea van die begin van die pandemie aansienlik meer mense vir Covid-19 op ʼn daaglikse basis getoets – of hulle nou simptome getoon het of nie, berigThe Guardian.

Die VSA het teen middel Maart aangedui dat hy sowat 11 000 mense vir Covid-19 getoets het. Suid-Korea het in dié stadium reeds ’n gemiddeld van 12 000 mense per dag getoets, berig Los Angeles Times. Suid-Korea se regering, onder leiding van pres. Moon Jae-in, het enkele weke ná die uitbreking reeds 290 000 toetse uitgevoer, terwyl die Amerikaners terselfdertyd slegs 60 000 toetse gedoen het en reeds gespook het om in die vraag na toetse te voldoen.

Volgens Suid-Afrika se Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het doen dié land, met ʼn bevolking van ongeveer 55 miljoen, tans tussen 3 000 en 4 000 toetse per dag. Teen 6 April, ʼn maand nadat die virus hier uitgebreek het, het Suid-Afrika 58 000 mense vir Covid-19 getoets.

Die manier waarop Suid-Korea toetse uitgevoer het, het ook lof uit talle oorde ontvang. Dié land het van die begin af toetse uitgevoer deur middel van ’n inry-stelsel waar pasiënte in hul motors vir Covid-19 getoets is. Toetsuitslae is binne ses tot 12 uur gereed en word aan pasiënte per selfoonboodskap of e-pos gestuur. Dié metode is as vinnig, gratis, innoverend en veilig bestempel, berig The Nation.

In Suid-Afrika neem dit tussen 24 en 48 uur vir toetse om verwerk te word.

‘n Vrou se temperatuur word Sondag vanuit haar motor nagegaan in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man, AP)

“Die vinnige implementering van Suid-Korea se toetse was uiters belangrik, want spoed is uiters belangrik in uitbrekingsituasies. Hoe langer die vertraging, hoe meer sterftes en hoe moeiliker word dit vir die openbare gesondheidstelsel om hierop te reageer,” het Sanghyuk Shin, ʼn assistent-professor in verpleegkunde aan die Universiteit van Kalifornië in Irvine en die direkteur van UCI se Infectious Disease Science Initiative, aan The Nation verduidelik.

Volgens Shin het Suid-Korea baie vinnig gereageer op die uitbreking van Covid-19, aangesien talle toetstoestelle ook aan private hospitale en klinieke verskaf word.

Suid-Korea maak ook gebruik van ʼn sentrale opsporings-app genaamd Corona 100m. Dié app stel gebruikers in kennis van bevestigde gevalle van Covid-19 in ʼn 100 m-radius.

Kang Kyung-wha, Suid-Korea se minister van buitelandse sake, het aan die BBC gesê hy hoop dat Suid-Korea se ervaring en benadering omtrent Covid-19 as ʼn voorbeeld vir ander lande kan dien.

“Deur pasiënte vinnig met Covid-19 te diagnoseer kan ons die verspreiding daarvan minimaliseer en vinnige behandeling bied en dít hou die sterftesyfer laag,” het Kang in die onderhoud gesê.

Bykomende bronne: Science Mag, The New York Times, Worldometer

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.