Covid-19-entstof vir gebruik in Brittanje goedgekeur

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Covid-19-entstof wat deur AstraZeneca in samewerking met die Universiteit van Oxford ontwikkel is, is goedgekeur vir gebruik in die Verenigde Koninkryk (VK).

Die Britse regering het gesê hy het die aanbeveling van die Medisyne en Gesondheidsorgprodukte Reguleringsagentskap (MHRA) aanvaar om dié entstof vir gebruik te magtig.

“Dit volg op streng kliniese toetse en ʼn deeglike ontleding van data deur kundiges van die MHRA, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die entstof aan sy streng standaarde vir veiligheid, gehalte en doeltreffendheid voldoen,” het die departement van gesondheid en maatskaplike sorg gesê.

Die entstof kan onder normale verkoeltoestande geberg, vervoer en hanteer word, en is dus goedkoper en makliker om te administreer as die Pfizer-BioNTech- en Moderna-stowwe wat gevries moet word.

Matt Hancock, Britse minister van gesondheid, sê die VK sal op 4 Januarie die eerste land word om dié entstof te begin gebruik.

“Dit is goed om die jaar op so ʼn hoopvolle noot te eindig,” het Hancock op Twitter gesê. “Die entstof is ons manier om uit hierdie pandemie te kom – nou moet ons net hierdeur kom.”

Pascal Soriot, uitvoerende hoof van AstraZeneca, beweer dat die entstof 100%-beskerming bied teen ʼn ernstige vorm van Covid-19 wat hospitalisasie tot gevolg het.

Hy het voorspel dat proewe sal bewys dat sy onderneming ʼn entstofdoeltreffendheid bereik het in vergelyking met dié van Pfizer-BioNTech (95%) en Moderna (94,5%).

In vroeëre proewe is verskillende resultate verkry in die doeltreffendheid van die AstraZeneca-entstof.

Die entstof het aanvanklik ʼn gemiddelde 70%-doeltreffendheid getoon, maar die vlak het tot 90% gestyg, na gelang van die dosis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.