Covid-19: Geen nuwe sterftes vir Brittanje

Britse premier, Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Brittanje het vandag (Dinsdag) vir die eerste keer sedert 30 Julie verlede jaar geen nuwe daaglikse sterftes weens Covid-19 aangemeld nie. Dít ondanks ’n onlangse toename in gevalle wat verband hou met die Indiese variant.

Die Verenigde Koninkryk het Maandag, ’n openbare vakansiedag, slegs een sterfte weens die koronavirus aangemeld.

Amptelike sterftesyfers is gewoonlik laer oor naweke en vakansies weens ’n agterstand in die aanmeld van gevalle en sterftes.

Vandag kan nietemin as ’n mylpaal bestempel word nadat Brittanje sy afsonderingsregulasies die afgelope paar maande verslap het om sy ekonomie ’n hupstoot te gee.

Brittanje het wel wat bevestigde gevalle betref Dinsdag vir die sewende agtereenvolgende dag meer as 3 000 gevalle aangemeld.

Altesame 4,49 miljoen mense in die Verenigde Koninkryk het reeds positief vir Covid-19 getoets.

Luidens die regering se syfers is altesame 127 782 mense in die Verenigde Koninkryk sedert die aanvang van die pandemie binne 28 dae dood nadat hulle positief vir Covid-19 getoets het.

Dít is die ergste dodetal van al die Europese lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie Smartie ·

VK het omtrent 10milj meer inwoners as SA maar dubbel die aantal sterftes. Wie kan mens glo? Of is daar soveel meer bejaardes in die VK wat gesterf het? Syfers lyk maar onbetroubaar

Boekwurm ·

Ek dink die syfers lyk reg. SA is meer uitgespreid, waar die VK n klein eiland is waar mense meer naby mekaar woon. Ek dink SA regering het baie beter opgetree in vergelyking met VK

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.