Covid-19: Hernude streng maatreëls vir Melbourne

Melbourne in Australië het afsonderingsmaatreëls weer verskerp nadat Covid-19-gevalle in die staat Victoria aansienlik toegeneem het. (Foto: James Ross/AAP via AP)

Streng nuwe afsonderingsmaatreëls is in die Covid-19-geteisterde Australiese stad Melbourne ingestel nadat ʼn tweede vlaag van die pandemie die streek getref het.

Streng maatreëls ingestel

ʼn Noodtoestand is Sondag in die staat Victoria afgekondig en kleinhandelaars, winkels, kroeë en hotelle is beveel om hul deure vanaf Woensdag vir die volgende ses weke te sluit. Die vervaardigingsbedryf moet sy bedrywighede opskort en skole is aangesê om weer aanlyn klasse te hervat, het Daniel Andrews, premier, gesê.

“Kleinhandel gaan baie anders as ooit vantevore daarna uitsien,” het Andrews gesê.

Slegs noodsaaklike winkels soos supermarkte, vulstasies, apteke en poskantore word toegelaat om sake voort te sit. Sommige winkels sal wel toegelaat word om ʼn afhaal- of afleweringsdiens te lewer.

ʼn Aandklokreël geld tussen 20:00 en 05:00 en inwoners word verbied om verder as vyf kilometer van hul huis vir inkopies of oefening te reis.

Alle ontspanningsaktiwiteite en troues word verbied en die dra van gesigmaskers is verpligtend.

“Alle inwoners van Victoria moet van die huis af werk tensy dit prakties nie moontlik is nie,” het Andrews gesê.

Melbourne is die hoofstad van die staat Victoria en naas Sydney die land se digs bevolkte stad. Dit is sedert Junie deur ʼn tweede vlaag Covid-19-gevalle getref. Dertien mense het oornag aan die virus gesterf wat die dodetal in die staat op 136 te staan bring. Landwyd staan die sterftesyfer op 221. Andrews het gesê 429 nuwe gevalle van die siekte is bevestig – die meeste daarvan in Melbourne.

Australië is vroeër geloof vir die stappe wat die land gedoen het om die verspreiding van die virus vroegtydig te stuit, maar voer nou ʼn opdraande stryd om die nuwe vlaag in bedwang te hou.

Die land het in hierdie stadium meer as 18 000 bevestigde Covid-19-gevalle.

Kalifornië nou swaarste getref

Viëtnam het ook maatreëls verskerp te midde van stygende gevalle van die nuwe koronavirus. (Foto: Hau Dinh/AP)

In die VSA is Kalifornië met sy bevolking van nagenoeg 40 miljoen mense nou die Amerikaanse deelstaat met die meeste Covid-19-gevalle. Meer as ʼn halfmiljoen Covid-19-gevalle is reeds in die staat bevestig en meer as 9 300 mense het al aan die virussiekte gesterf.

ʼn Gemiddeld van 7 929 nuwe gevalle word die afgelope sewe dae daagliks in Kalifornië aangemeld en meer as agt miljoen mense in die staat is al vir die nuwe virussiekte getoets.

Kalifornië se departement van gesondheid het gesê terwyl toetskapasiteit in die staat toeneem, was dit te wagte dat daar ook ʼn styging in positiewe gevalle sou wees. Die owerhede sê dit is belangrik om die koers waarteen mense positief vir die virus toets te gebruik om tekens van verspreiding in ʼn gemeenskap te identifiseer.

Die getal bevestigde gevalle in Kalifornië het New York verlede week verbygesteek as die staat met die grootste getal Covid-19-gevalle in die VSA.

Maatreëls in Filippyne ook verskerp

Maatreëls in Manila, hoofstad van die Filippyne, en verskeie dig bevolkte provinsies is ook verskerp om die verspreiding van Covid-19 te stuit. (Foto: Aaron Favila/AP)

Die Filippynse president Rodrigo Duterte het ook weer ʼn afsonderingstydperk in dié land aangekondig nadat infeksies die hoogte ingeskiet het. Die beperkings geld vir die hoofstad, Manila, asook vyf dig bevolkte provinsies. Die maatreëls tree Dinsdag in werking en geld vir twee weke.

Openbare vervoer word in dié tyd opgeskort en slegs noodsaaklike reise mag onderneem word.

Die leiers van byna 100 mediese organisasies het die afgelope naweek tydens ʼn aanlyn mediakonferensie gewaarsku dat die land se gesondheidsorgstelsel oorweldig is deur die skielike toename in gevalle en dalk heeltemal kan inkonk terwyl gesondheidswerkers self siek word of weens vrees en uitputting ineenstort.

Die Filippyne het reeds meer as 103 000 bevestigde Covid-19-gevalle.

Bronne: DPA, Xinhua, AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Snaaks, ek lees nie dat hulle drank en sigarette verbied het nie?

Gysbert

Die slegte ding van Australië is dat hul polisie effektief is, so dis baie moeilik om kanse te vat. Dis wat SA so lekker maak. Die meeste reëls en wette is opsioneel, want daar is niemand om dit af te dwing nie. Beide n goeie en vrotsige polisie het voordele en nadele.