Die Europese ruimteagentskap het Dinsdag ʼn drastiese afname in stikstofdioksied (NO2) in Noord-Italië opgemerk. Dit is die gevolg van streng maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.
Die agentskap se Kopernikus-atmosfeermoniteringsdiens het bevind dat die skielike verandering in NO2-vlakke vir die afgelope vier tot vyf weke, ʼn afname in lugbesoedeling tot gevolg gehad het. Die strate van Italië en gewilde toeriste-aantreklikhede was die afgelope weke doodstil nadat Italië se regering ʼn noodtoestand verklaar het. Mense is sedertdien aangemoedig om tuis te bly.
“Dit is merkwaardig dat ons ʼn daling in vlakke kon waarneem,” sê Vincent-Henri Peuch, direkteur van die Kopernikus-atmosfeermoniteringsdiens.
Stikstofdioksied is ʼn neweproduk van dieselmotors en daaglikse aktiwiteite wat deel van die lewe is. Sedert Italianers onder kwarantyn geplaas is, het dié bedrywighede drasties verminder. “Die daling wys tot watter uiterstes Italië gegaan het om die verspreiding van Covid-19 te beperk,” sê Peuch.
Intussen het inwoners van Venesië nog ʼn verandering in die natuur opgemerk toe talle visse na die kanale begin terugkeer het.
Dié wêrelderfenisgebied is verlede jaar op sy knieë gebring toe hoogwater byna die stad oorstroom het. Sedert die stad onlangs onder kwarantyn geplaas is weens Covid-19, het skoon water vir die eerste keer in etlike jare deur die stad se kanale begin vloei.
Sosialemediagebruikers het op Twitter hul opgewondenheid oor dié verrassende wending uitgespreek.
“Die kanale in Venesië het nou skoon water vol visse en lugbesoedelingsvlakke het gedaal. Die natuur eis sy ruimtes terug tydens die kwarantyntydperk in Italië,” sê Francesco Delrio, ʼn Twitter-gebruiker.
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Die natuur het ‘n wonderlike manier om mensdom tot hul knieë te dwing.
En so werk GOD met die mens en natuur, hierdie is alles GOD se handewerk om mense nader aan HOM te bring en ook dalk nader aan ander en ook HY weet wat om te doen om die aarde wat aan ons geleen is skoon temaak al is dit hartseer dat mense moet sterf so maak GOD SY aarde skoon want die mens besoedel en beskadig dit en al hierdie rampe is die mens se straf.
Die wêreld ruk of skud behoorlik sy vere reg
Mens hoop Italiē kan herstel en besoedeling onder beheer bringven hou.