Covid-19: Markte tuimel; lewens kom tot stilstand

Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad het ‘n spesiale kwarantynafdeling vir pasiënte met Covid-19. (Foto: Ian Landsberg/ANA)

Die nuwe koronavirus-pandemie is besig om wêreldwyd gewone mense se lewens oor te neem, hospitale te oorweldig en skole en sakeondernemings tot stilstand te dwing. Dit het selfs veldtogte vir die Amerikaanse presidentsverkiesing in die wiele gery en al hoe meer sportbyeenkomste word opgeskort. Voeg hierby die verbysterende finansiële tol wat Covid-19 eis.

Die toenemende verspreiding van Covid-19 deur Asië het die hoop dat die siekte spoedig in bedwang gebring kan word, summier gestuit en reis- en sosiale byeenkomste gekelder. Selfs politieke leiers is onder diegene wat reeds die virus opgedoen het, of in isolasie gehou word weens vrese van moontlike besmetting.

Tog is die aantal nuwe gevalle in China besig om af te neem.

Markte steier

Markte in Asië het Vrydag verder teruggesak nadat die Amerikaanse markte die grootste verlies sedert “Swart Maandag” in 1987, toe Wall Street ineengestort het, beleef het. Europese markte vaar nie veel beter nie.

In Japan, Thailand en Indië het markte met tot soveel as 10% teruggesak. In China, waar die verspreiding van die virus oënskynlik besig is om af te neem, was die uitwerking minder kwaai.

In die VSA word daar gewerk aan ʼn ooreenkoms met die Trump-administrasie vir ʼn omvattende hulppakket met siekverlof, gratis toetse en ander hulpbronne om angstige Amerikaners te kalmeer en ʼn verdere bloedbad op die markte te voorkom, het speaker Nancy Pelosi gesê.

Mense is bekommerd oor die kwesbaarheid van ouer burgers, hoe hulle hul werk onder dié omstandighede gaan behou en vrese dat spaargeld wegkwyn terwyl daar tuis na kinders omgesien moet word omdat skole gesluit is.

Terwyl Washington skarrel om ʼn ekonomiese reddingsboei saam te stel, het die Europese Unie teruggekap na pres. Donald Trump se uitgebreide reisbeperkings op reise van Europa na die VSA. Die EU was nie beïndruk met Trump se “eensydige” besluit nie en sê die virus is ʼn “wêreldwye krisis wat nie tot enige vasteland beperk is nie en almal se samewerking benodig”.

Trump het sy besluit verdedig om nie alle EU-leiers vooraf oor sy besluit in te lig nie. “As hulle belasting verhoog, vra hulle nie ons mening daaroor nie. Ek dink dis maar dieselfde ding.”

Reisigers op die lughawe in Brussel word teen die nuwe koronavirus gewaarsku. (Foto: Virginia Mayo/AP)

Verspreiding buite China

Die verspreiding van die virus in Europa, Noord-Amerika en die Midde-Ooste is in skerp kontras met die tanende epidemies in die Asiatiese lande wat die swaarste getref is.

China, waar die uitbreking laat verlede jaar begin het, het steeds meer as 60% van die wêreld se infeksies. Die land het Vrydag net agt nuwe besmettings en sewe sterftes aangemeld. Meer as 64 000 mense is al uit hospitale ontslaan.

Terwyl China se getal pasiënte daal, help dié land se regering nou ander lande met die kundigheid wat hy sedertdien opgedoen het. ʼn Chinese span medici is op pad na Italië, terwyl surplusvoorraad na Iran gestuur word.

China se pres. Xi Jinping het die VN ingelig dat die land gesamentlike navorsing oor medisyne en entstowwe wil onderneem en dat hy so ver moontlik wil help in lande waar die virus nou versprei. Staatsmedia berig die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê dat ekonomiese en alledaagse bedrywighede in China nou gaandeweg na normaal terugkeer danksy die enorme pogings om die verspreiding van die siekte te voorkom en te beheer.

Die pandemie se nuwe episentrum is Europa:

  • In Italië het die dodetal reeds die 1 000-kerf verbygesteek en meer as 15 000 mense het Covid-19.
  • Frankryk, Spanje en Duitsland het elk meer as 2 000 gevalle.
  • In Italië se Lombardye-streek is hospitale oorweldig deur siekes en sterftes. Die land se restaurante, kafees en winkels is gesluit en mense se bewegings word beperk. Kruidenierswinkels, apteke en markte mag nog sake doen.
  • In Frankryk, Ierland, Denemarke, Noorweë, Litoue, Algerië en Slowakye is skole gesluit en Europa se magtigste sokkerspan, Real Madrid, het alle spelers in kwarantyn geplaas nadat een van hulle positief vir die virus getoets het.
  • Die Tsjeggiese regering het grensbeheer met sommige lande verskerp en Slowakye het sy internasionale lughawens en vervoersentrums gesluit.
  • Europeërs raak nog gewoond aan die VSA se nuwe reisbeperkings – wat Engeland en Ierland uitsluit.

In Iran het meer as 10 000 mense die virus al opgedoen en meer as 400 mense het gesterf. Die land se minister van buitelandse sake, Mohammad Javad Zarif, het die VSA gevra om dadelik sanksies op Iran se kernkragprogram op te hef omdat die sanksies dit moeilik maak om medisyne en mediese toerusting in te voer wat ook gebruik word om pasiënte te identifiseer en te behandel.

Passasiers op die lughawe in Brussel wag om aan boord van ‘n vlug na die VSA te gaan. (Foto: Virginia Mayo/AP)

Te midde van al die vrese is dit maklik om te vergeet dat meer as die helfte van die 128 000 mense wêreldwyd wat die siekte opgedoen het, reeds herstel het. Die meeste mense het net matige simptome soos koors of ʼn verkoue, hoewel erger simptome in veral ouer mense en diegene met bestaande gesondheidsprobleme gesien word.

Wêreldleiers

Die volgende wêreldleiers word deur die virus geraak:

  • Kanada se eerste minister, Justin Trudeau, is in isolasie nadat sy vrou positief vir die siekte getoets het.
  • Australië se minister van binnelandse sake, Peter Dutton, is in isolasie in ʼn hospitaal nadat hy positief vir die virus getoets het.
  • Die Brasiliaanse presidensiële woordvoerder het ook positief vir die virus getoets net enkele dae nadat hy Trump ontmoet het. Ten spyte hiervan het die Amerikaanse president geen planne om self vir die virus getoets te word of om in kwarantyn gehou te word nie.

Sport

Verskeie groot sportbyeenkomste is afgelas, maar die grootste atletiekbyeenkoms van almal – die Olimpiese Spele – gaan voort soos beplan.

Die Internasionale Olimpiese komitee en die Tokio-reëlingskomitee oorweeg in dié stadium glad nie om die Spele op te skort of uit te stel nie.

As dié byeenkoms gekanselleer of uitgestel word, gaan dit ʼn enorme uitwerking in duisende rigtings hê: Almal van borge, tot uitsaaiers, sakeondernemings en die 11 000 Olimpiese en 4 000 Paralimpiese atlete word geraak.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.